AfriForum eis antwoorde oor hoftolke te midde van krisisse in Wes-Kaap
AfriForum het op 2 April ’n aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) by die Suid-Afrikaanse Departement van Justisie ingedien om duidelikheid te kry oor die stand van tolkdienste in die land se howe. Dié versoek volg op groeiende kommer van AfriForum se veiligheidstrukture in die Wes-Kaap oor ’n ontstellende tendens waar hofsake uitgestel – en in sommige gevalle selfs laat vaar word – weens die afwesigheid van tolke. Hierdie kwessie is veral algemeen in gevalle waar buitelandse burgers van misdade in Suid-Afrika aangekla word.
Luidens berigte is een van die hoofredes vir die gebrek aan tolke in howe, die Departement van Justisie se wanbetaling van tolke. Dit het gelei tot aansienlike ontwrigtings in hofverrigtinge, wat ernstige kommer oor die funksionaliteit en regverdigheid van die regstelsel laat ontstaan.
’n Onlangse voorbeeld wat hierdie krisis beklemtoon, behels vier Malawiese burgers wat in Oktober 2023 gearresteer is en drie sake van huisbraak en een saak van besit van gesteelde goedere in die gesig staar. Die beskuldigdes is borgtog geweier aangesien hulle ongedokumenteerde immigrante was. Ten spyte van hul inhegtenisneming byna ’n jaar en ’n half gelede, het hulle egter ongeveer 14 keer in die hof in Mosselbaai verskyn en nog nie op die aanklagte teen hulle gepleit nie. Die saak is al telkemale uitstel met een van die hoofredes daarvan die gebrek aan beskikbare tolke tydens hul hofverskynings.
Met die PAIA-aansoek eis AfriForum volle deursigtigheid oor die stand van tolkdienste in Suid-Afrikaanse howe, die Departement van Justisie se beleid oor tolke se betalings en die stappe wat geneem word om hierdie krisis op te los.
“Dit is onaanvaarbaar dat misdadigers vry rondloop bloot omdat die Departement van Justisie versuim om tolke te betaal. Slagoffers van misdaad en hul gesinne verdien beter en AfriForum is daartoe verbind om diegene wat verantwoordelik is, aanspreeklik te hou. Geregtigheid wat vertraag word, is geregtigheid wat geweier word,” sê Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid by AfriForum.
AfriForum versoek die Departement van Justisie om duidelike antwoorde te verskaf en onmiddellike stappe te doen om te verseker dat hofverrigtinge nie meer in die gedrang kom weens onbetaalde tolke nie.