AfriForum dring aan op gratis tydelike bestuurderslisensies te midde van agterstand met rybewyskaarte
AfriForum dring by Barbara Creecy, minister van Vervoer, daarop aan dat tydelike bestuurderslisensies, te midde van die agterstand van die uitreiking van bestuurderslisensiekaarte, gratis uitgereik moet word aan motoriste wat hul lisensies betyds hernu. Die agterstand op die uitreiking van lisensiekaarte het teen die middel van Mei vanjaar op meer as 730 000 kaarte gestaan omdat die land se enigste lisensiekaartdrukker in die afgelope vier jaar meer as 130 dae lank buite werking was.
Die burgerregteorganisasie hou vol dat wetsgehoorsame motoriste wat betyds aansoek om die hernuwing van hul lisensies doen, maar weens probleme met die drukker nou genoodsaak word om tydelike lisensies uit te neem, as’t ware “beboet” word vir die departement van Vervoer se nalatigheid. Volgens die departement se riglyne moet motoriste wat nie voor die vervaldatum van hul bestuurderslisensies aansoek om die hernuwing daarvan doen nie, ’n tydelike lisensie teen ’n bykomende koste aanskaf. Tans word selfs dié wat stiptelik hul lisensies hernu, egter genoodsaak om te betaal vir ’n tydelike lisensie aangesien die kans om die nuwe lisensiekaart betyds te ontvang minimaal is.
Volgens Louis Boshoff, woordvoerder by AfriForum, behoort die stelsel so te funksioneer dat dit goedkoper is om jou lisensie betyds te hernu. Dit is egter nie tans die geval nie. “As die departement nie in staat is om hul masjien in stand te hou of ’n nuwe een te kry nie, moet húlle die prys daarvoor betaal, nie gewone motoriste nie.”
Boshoff verduidelik verder dat AfriForum en ander organisasies al verskeie werkbare oplossings voorgestel het om die agterstand met die druk van lisensiekaarte te takel – soos om die geldigheidstydperk van lisensiekaarte te verleng – maar dat die departement hom tot dusver doof gehou het vir dié aanbevelings.
“Die departement het nou reeds oorgenoeg tyd gehad om ’n nuwe lisensiekaartdrukker te kry. Ons weier om aan te hou betaal vir ’n probleem wat weens swak bestuur steeds nie opgelos word nie,” sluit Boshoff af.