AfriForum-dokumentêr meer as 30 miljoen keer gekyk ná Elon Musk in X-plasing na SA se wette oor ras en onteiening kap
Klankgreep: Ernst van Zyl (Afrikaans)
Klankgreep: Ernst van Zyl (Engels)
AfriForum se jongste dokumentêr, Is Trump right about South Africa?, is sedert gister meer as 30 miljoen keer gekyk ná die Suid-Afrikaans gebore miljardêr Elon Musk in ’n plasing op die sosialemediaplatform X sy stem laat hoor het oor rassediskriminasie in Suid-Afrika en die dokumentêr daarby gedeel het. Dit gee dié burgerregteorganisasie nuwe moed én vertroue dat die waarheid oor die Suid-Afrikaanse regering gehoor sál word. Die dokumentêr lê die Suid-Afrikaanse regering se vernietigende en diskriminerende beleide bloot.
Musk bestempel in sy X-plasing Suid-Afrika se 142 wette wat rassediskriminasie afdwing “teen enigeen wat nie swart is nie”, as “skandelik”.
In AfriForum se dokumentêr gesels die organisasie se hoof van Openbare Betrekkinge, Ernst van Zyl, met Martin van Staden van die Vryemarkstigting en Theo de Jager van SAAI oor onder meer die omvangryke getal raswette in Suid-Afrika en die toepassing daarvan, die nuwe Onteieningswet, die “Kill the Boer”-dreunsang en plaasmoorde.
“Die waarheid oor die Suid-Afrikaanse regering kom nou uit, of die ANC daarvan hou of nie. Die kollig wat nou internasionaal daarop geplaas word, is grootliks te danke aan figure soos president Donald Trump en Elon Musk wat standpunt hieroor inneem,” sê Van Zyl.
