AfriForum doen regstappe om Hlophe uit RDK te verwyder
Die burgerregteorganisasie AfriForum het met regstappe begin om die Nasionale Vergadering (NV) se onlangse aanstelling van voormalige regter-president dr. John Hlophe as lid van die Regterlike Dienstekommissie (RDK) in die Konstitusionele Hof ter syde te laat stel.
Die Konstitusionele Hof word in AfriForum se hofaansoek versoek om te verklaar dat Hlophe se aanstelling irrasioneel, onregmatig en in stryd met die NV se grondwetlike plig is.
AfriForum het reeds sy hofstukke elektronies op die Speaker van die Parlement, Hlophe en die MK-party beteken. ’n Aansoek wat onder meer direkte toegang tot die Konstitusionele Hof versoek, sal in die komende week in dié hof uitgereik word.
Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is dit ondenkbaar dat aspirant regters se etiek, integriteit en geskiktheid om as regter te dien, voortaan deur Hlophe as lid van die RDK beoordeel moet word. Dit terwyl Hlophe self vroeër deur die RDK ongeskik bevind is om as regter te dien vanweë sy oneerlikheid en growwe wangedrag.
“Dit is noodsaaklik dat AfriForum Hlophe se aanstelling in die hoogste hof beveg, omdat sy teenwoordigheid in die RDK die geloofwaardigheid en onafhanklikheid van die regbank ernstig kniehalter, terwyl dit ook die oppergesag van die reg ondermyn,” voeg Kriel by.
In AfriForum se hofstukke word daarop gewys dat die NV, kragtens artikel 165 van die Grondwet, ’n plig het om onder meer die howe by te staan en te beskerm om die howe se onafhanklikheid, onpartydigheid, waardigheid en doeltreffendheid te verseker. “Deur Hlophe aan te stel het die NV nie net sy grondwetlike plig versaak nie, maar direk strydig met die Grondwet opgetree,” beklemtoon Kriel.
AfriForum voer aan dat die saak direk voor die Konstitusionele Hof gebring kan word omdat dié hof uitsluitlike jurisdiksie oor die saak het en omdat die saak dringend is. Volgens Kriel gaan die RDK reeds in Oktober vanjaar onderhoude met voornemende regters voer en sal dit die publiek se vertroue in die regbank skend indien Hlophe deel van die onderhoudsproses sou wees.
Hlophe is die eerste regter wat ná 1994 deur die NV van sy amp onthef is. Dit het gevolg nadat die RDK hom skuldig bevind het aan oneerlikheid en growwe wangedrag. Sy skuldigbevinding het voortgespruit uit sy pogings om twee regters van die Konstitusionle Hof, regters Bess Nkabinde en Chris Jafta, in 2008 onregmatig te beïnvloed om ten gunste van Jacob Zuma te beslis in sake voor hulle.