AfriForum doen Mogale City se werk om dienslewering te red
Die AfriForum-tak in Krugersdorp het gedurende die tweede kwartaal voortgegaan met volgehoue skoonmaakprojekte om ’n verskil in die gemeenskap te maak, te midde van die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se versuim om dienste te lewer.
Die buurtspan van AfriForum se Krugersdorp-tak het in April, Mei en Junie vanjaar al minstens 80 sakke rommel opgetel, ongeveer50 sakke gras verwyder en nagenoeg drie hektaar se gras gesny.
“Mogale City se dienslewering aan die gemeenskap het drasties agteruitgegaan,” sê Stephanus “Butch” Blignault, AfriForum distrikskoördineerder vir die Wes-Rand. “Indien gemeenskappe nie self betrokke raak en verantwoordelikheid neem vir hul omgewing nie, sal die dorp nog verder agteruitgaan. Die munisipaliteit het gewys dat hulle nie in staat is om hul grondwetlike pligte na te kom nie.”
Die Krugersdorp-tak se projekte fokus op gesondheids- en veiligheidsrisiko’s wat ontstaan weens verwaarloosde openbare ruimtes, ongereguleerde vullisverwydering en oorgroeide terreine. AfriForum het reeds verskeie versoeke aan die Mogale City-munisipaliteit gerig vir konstruktiewe gesprekvoering en die moontlikheid om ’n openbare-private vennootskap te sluit. Die doel is om praktiese oplossings aan te bied vir die gemeenskap se uitdagings, eerder as om net kritiek te lewer.
“Ons verkies om op te tree eerder as om agteroor te sit en toe te kyk hoe Krugersdorp agteruitgaan. Die gemeenskap se welstand is ons prioriteit en ons sal aanhou intree waar die owerheid faal,” sluit Blignault af.
AfriForum doen ’n beroep op inwoners om betrokke te raak by die Krugersdorp-tak en -buurtwag se volhoubare projekte sodat hoop, orde en trots in die stad herstel kan word.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.