|

AfriForum doen aansoek om verlof tot appèl teen uitspraak oor Mogale City-kragtariewe

AfriForum het vandeesweek aansoek om verlof tot appèl by die Gautengse Hooggeregshof in Pretoria ingedien om ’n hofuitspraak wat die implementering van ’n nuwe kragtariefstruktuur in die Mogale City Plaaslike Munisipaliteit goedkeur, om te keer. Dieselfde hof het die burgerregteorganisasie se aansoek om dié kragtariefstruktuur en daaropvolgende tariefverhoging onwettig en ongeldig te laat verklaar, verlede week van die hand gewys. AfriForum voer aan dat die saak nie na behore oorweeg is nie en die beginsel van nievoeging verkeerdelik in die saak toegepas is nadat die munisipaliteit se regspan aangevoer het dat die saak nie voortgesit kan word nie omdat die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (Nersa) nie as party tot die saak gevoeg was nie.

“Die hof het hom vergis deur die munisipaliteit se verweer van nievoeging te aanvaar op gronde daarvan dat Nersa dalk ’n belang in die saak kan hê. Dit ten spyte van die feit dat die reguleerder geensins aangedui het dat hy ’n direkte of wesenlike belang in die saak het nie. Gevolglik het die hof fouteer toe dit AfriForum se saak van die hand gewys het en tot die gevolgtrekking gekom het dat Nersa by die verrigtinge gevoeg moes word,” sê Deidré Steffens, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

Om te toets of ’n party tot ’n saak gevoeg moet word, moet daar bepaal word of ’n hofbevel ’n party se belange nadelig sal raak. AfriForum voer in sy aansoek om verlof tot appèl aan dat die hof sonder spesifieke bevindinge of regsgrondslag tot die gevolgtrekking gekom het dat Nersa se belange wel deur ’n hofbevel benadeel sou word.

Die Mogale City-munisipaliteit het in die verlede ’n vaste tariefstruktuur toegepas, maar verlede jaar besluit om ’n stygende bloktariefstruktuur te implementeer en bloot ’n 12,7%-verhoging aangekondig sonder om inwoners oor die nuwe tariefstruktuur in te lig óf die geleentheid te gee om die besluit te betwis. Dit het tot gevolg gehad dat sommige tariewe op sekere gebruiksvlakke tot meer as 30% gestyg het.

“Nersa se primêre mandaat is om ’n robuuste en volhoubare elektrisiteitsektor te bevorder wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel. AfriForum is daarom van mening dat Nersa nie benadeel sou word as die hof sou bevind dat die munisipaliteit se wanvoorstelling van die nuwe tariefstruktuur en die daaropvolgende implementering van ’n verdere verhoging, onregmatig was nie,” sê Steffens.

Soortgelyke plasings