|

AfriForum dien kommentaar op “Bela-regulasies” in

Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Klankgreep: Alana Bailey (Engels)

AfriForum het pas kommentaar op die sogenaamde Bela-regulasies ingedien. In Augustus vanjaar is hierdie konsep regulasies vir die toepassing van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela) met betrekking tot toelating tot en kapasiteit van skole vir openbare kommentaar gepubliseer. Aanvanklik was die sluitingsdatum 5 September 2025, maar dit is later tot 5 Oktober verleng.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, is die doel van regulasies om meer duidelikheid oor die inhoud van wette te skep. AfriForum se vernaamste kommentaar, wat met behulp van sy regspan opgestel is, handel dan ook oorwegend met terme en bepalings in die regulasies wat steeds nie voldoende duidelikheid skep nie.

“Van die mees omstrede kwessies wat sedert die eerste weergawe van die Bela-wetsontwerp in die kollig was, is die rol van skole se beheerliggame versus dié van provinsiale onderwysdepartemente, asook skole se taalbeleide. Hoewel die regulasies oor skole se taalbeleide nog nie vir kommentaar gepubliseer is nie, moet die rol daarvan wel in ag geneem word wanneer toelatings tot skole hanteer word. Ongelukkig bied die regulasies oor kapasiteit en toelating nog nie voldoende duidelikheid hieroor nie en in AfriForum se kommentaar is dit onder meer beklemtoon,” sê Bailey.

Sy voeg by dat duidelikheid nie net vir effektiewe administratiewe doeleindes noodsaaklik is nie, maar uitgerekte dispute en duur regsaksies kan voorkom. AfriForum hoop dus dat hierdie vaaghede, asook regulasies wat mekaar weerspreek, reggestel sal word.

Soos genoem is daar nog geleentheid vir die publiek tot 5 Oktober om kommentaar in te dien en AfriForum moedig enigeen wat dit nog nie gedoen het nie, om wel aan die proses deel te neem. Beide stelle regulasies sal ’n betekenisvolle invloed op die aard van openbare skole en die beskikbaarstelling van hoëgehalte onderrig hê, daarom is dit nodig dat soveel instellings, organisasies en individue as moontlik kommentaar daarop indien. Die nodige inligting en adresse vir indiening kan in die Staatskoerant van 1 September 2025 (volume 723, nommer 53275) gevind word, of belanghebbendes kan AfriForum by onderwys@afriforum.co.za kontak.

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf, Magsmisbruik