AfriForum – die grootste burgerregteorganisasie in die land – vier 20 jaar van gemeenskapsbou

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)
Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

AfriForum, die organisasie wat reeds in die volksmond sinoniem geword het met die beskerming van Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede se regte, die bevordering van gemeenskapsveiligheid en gemeenskapsbou vier vandag sy 20ste bestaansjaar.

’n Nuusberig wat op 26 Maart 2006 in die Sondagblad Rapport verskyn het oor die stigting van AfriForum.

Die organisasie het, nadat dit amptelik op 26 Maart 2006 tot stand gekom het, binne die bestek van slegs twee dekades ongeëwenaarde groei ondervind en is opgebou vanaf ’n nuweling op die terrein van burgerregte tot die grootste organisasie van sy soort in die land met werksaamhede wat strek tot voordeel van almal in die land.

Teen Maart 2006 het die nuwe organisasie nog geen lede gehad nie en oor slegs drie personeellede beskik. AfriForum het sedertdien aangegroei tot die voorste rolspeler in die Suid-Afrikaanse burgerregtelandskap met nagenoeg 300 000 lede en 182 voltydse personeellede.

Twee van die oorspronklike drie personeellede wat sedert die stigting van AfriForum by die organisasie werk – Alana Bailey (hoof van Kultuursake by AfriForum) en Kallie Kriel (uitvoerende hoof van AfriForum).

Luidens die mediaverklaring oor AfriForum se stigting wat op 26 Maart 2006 uitgereik is, is die organisasie deur die vakbond Solidariteit in die lewe geroep om “’n forum te bied vir die konstruktiewe aktivering van minderhede […] tot deelname aan die openbare debat en aksies”.

Kallie Kriel staan reeds sedert die ontstaan van AfriForum aan die stuur van dié organisasie. In sy 2006-aankondiging oor die stigting het hy aangevoer dat die vestiging van die burgerregteorganisasie genoodsaak is as teenvoeter vir die apatie wat in daardie stadium onder veral Afrikaners geheers het. Dié apatie het luidens Kriel negatiewe gevolge ingehou vir minderhede, demokratiese beginsels en die land as geheel. “Die negatiewe gevolge van onttrekking sluit in dat die regering vrye teuels kry om die Grondwet te koöpteer, selektief te interpreteer en nie ’n balans te handhaaf tussen die belange van die meerderheid en minderhede nie,” het Kriel destyds gesê.

In die afgelope 20 jaar het AfriForum reeds sukses behaal in sy strewe na die ommekeer van Afrikaner-apatie. Die organisasie se reuse-ledebasis, 165 aktiewe takke en 177 buurtwagte, nagenoeg 10 000 vrywilligers en reusesteun vir veldtogte teen  die skending van burgerregte is ’n tasbare bewys van dié ontwaking wat onder veral Afrikaners aangeteken is sedert die organisasie se ontstaan.

“AfriForum se uiteenlopende suksesse in die vestiging van ’n beter hede én toekoms vir ons gesinne, gemeenskappe en nageslag hier aan die suidpunt van Afrika is tekenend van die praktiese haalbaarheid van AfriForum se toekomsbouplanne,” verduidelik Kriel. “Dié suksesse is geskoei op ’n ons-sal-self-benadering waarin ons met die genade, krag en leiding wat ons van Bo ontvang, self die toekoms bou wat ons vir ons kinders en gemeenskappe wil hê,” benadruk Kriel.

Ten opsigte van die toekoms, stel Kriel dit duidelik dat AfriForum, ongeag die mislukkende en korrupte regering se wanbestuur, gereed is om as gemeenskapsbouorganisasie sy “geheime wapen” selfs verder in te span. “Ons geheime wapen is dat elkeen van ons hande, verstand en ’n roeping ontvang het waarmee ons op elke lewensterrein beheer oor ons gemeenskappe se toekoms kan neem. Met dié ingesteldheid is AfriForum toegerus om die volgende 20 jaar met selfvertroue aan te pak en die verdere vestiging van selfstandige plaaslike gemeenskappe, as teenvoeter vir staatsverval, te vestig.”

AfriForum sal voortgaan om as waghond teen onreg en agteruitgang op te staan en te veg vir geregtigheid. Die organisasie sal egter ook meer van sy tyd, energie en hulpbronne daaraan toewy om doeltreffende gemeenskapsbouers te wees. Dit word reeds, volgens Kriel, in terme van die organisasie se gemeenskapsbouplan geïmplementeer en fokus op die versterking en uitbreiding van AfriForum se selfdoeninisiatiewe in plaaslike gemeenskappe; die gekoördineerde samewerking met ander gemeenskapsinstellings; en waar moontlik, die sluit van samewerkingsooreenkomste met die owerhede.

Kriel sluit af: “Ons sien uit na die volgende 20 jaar en die bou van ’n toekoms vir ons gesinne en nageslag waar ons vry, veilig en voorspoedig kan leef. Elkeen van ons het as gemeenskapsbouers ’n rol om te speel, hande vuil te maak en waarlik te bou. Jy kan dit deur AfriForum, jou kinders se skool, jou kerk of ander gemeenskapsinstellings doen. Ek nooi jou – kom bou saam!”

Soortgelyke plasings

#OnsSalSelf