AfriForum-buurtwagte fnuik kabeldiewe se planne tydens massapatrollie
AfriForum se buurtwagte in die Wes-Rand en Vaal Driehoek het op 11 April aan die burgerregteorganisasie se nasionale patrollie deelgeneem en hiertydens groot sukses behaal toe een van die buurtwagte kabeldiewe op heterdaad betrap het.
Altesaam 58 buurtwaglede in die Vaal Driehoek, wat Vanderbijlpark, Vereeniging en Midvaal insluit, het in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), plaaslike gemeenskapspolisiëringsforums (GPF) en verskeie privaat veiligheidsmaatskappye patrollies gery. Die lede het meer as 2 000 km afgelê.
Buurtwaglede van Vereniging het tydens die patrollie ’n voorval van kabeldiefstal voorkom deur die gebruik van hommeltuie. Buurtwaglede is in kennis gestel oor ’n vermeende diefstalpoging in Houtkopweg onder die R59-brug, toe hulle hommeltuie ontbied het. Die vermeende kabeldiewe het in ’n naburige veld weggekruip toe die hommeltuie toegesak het, maar met die buurtwag se aankoms op die toneel, was die kwaaddoeners reeds skoonveld. Die vermeende diewe was besig om ’n sementblok oop te kap om by die kabels uit te kom toe die buurtwag hul planne in die wiele gery het.
AfriForum se Wes-Rand-steunkring, wat Roodepoort, Johannesburg-Noord, Krugersdorp, Randfontein en Fochville insluit, het dieselfde aand 82 lede gehad wat patrollies in 35 voertuie gery het. ’n Totale afstand van 8 750 km is afgelê. Die buurtwagte het sigbaarheidspatrollies in gebiede gery wat brandpunte vir misdaad en dwelmhandel is.
Hierdie soort nasionale patrollies, wat AfriForum-buurtwagte landwyd op dieselfde dag ry, vind drie keer per jaar plaas. Dit is nie net ’n magsvertoning nie, maar ontmoedig ook misdadigheid in gebiede. Dit bied ook die geleentheid vir AfriForum om ondersteuning aan die SAPD te bied en toekomstige samewerkingsgeleenthede te verbeter.
Volgens Esias Bootha, voorsitter van AfriForum se Johannesburg-Noord-tak, was die massapatrollie weereens ’n bewys van hoe goed verskillende takke as ’n eenheid kan saamwerk om mekaar in hul onderskeie dorpe en stede te ondersteun.
“AfriForum se buurtwagte het definitief hul teenwoordigheid laat geld en misdadigers in Johannesburg-Noord, Roodepoort, Randfontein en Krugersdorp laat verstaan dat dié gemeenskappe onder hulle, die SAPD, GPF en ander veiligheidsmaatskappye se beskerming is,” sê Bootha.
Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Wes-Rand en Vaal Driehoek, sê die betrokkenheid van die gemeenskap en samewerking met wetstoepassers en ander veiligheidsmaatskappye speel ’n belangrike rol in die bekamping van misdaad en die handhawing van veiligheid in woongebiede.
Besoek www.wordlid.co.za om vandag nog by jou naaste AfriForum-tak aan te sluit.