AfriForum-buurtwag op pos om misdaad noord van die berg te bekamp
AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag het die afgelope naweek wéér bewys waarom gemeenskapsbetrokkenheid ’n kragtige instrument is in die stryd teen misdaad. Deur volharding, spanwerk en doeltreffende samewerking met ander rolspelers is twee voorvalle suksesvol hanteer.
Vrydagaand (4 Julie) het AfriForum-buurtwaglede, in samewerking met Maximum- en BBS-sekuriteit, ’n verdagte dopgehou wat vroeër die aand aan veiligheidshekke in die omgewing gepeuter het. Toe buurtwaglede hom nader, het hy tussen die lang gras verdwyn. Die span het hul soektog na die verdagte voortgesit en hom later opgespoor waar hy besig was om ’n vuur onder die N4-brug te maak. Alhoewel die persoon daarin geslaag het om weer te vlug, is ongelisensieerde rondtes ammunisie in sy besit gevind en aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) oorhandig vir verdere ondersoek.
Saterdagaand (5 Julie) het AfriForum-buurtwaglede op ’n motorongeluk afgekom waar een van die bestuurders met sy voertuig van die toneel probeer vlug het. Danksy vinnige optrede en Maximum-sekuriteit se ondersteuning, is die voertuig suksesvol voorgekeer en nooddienste en die SAPD is onmiddellik ontbied.
Hierdie voorvalle beklemtoon weer die waarde van ’n aktiewe, toegeruste en samewerkende gemeenskap. AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag glo dat wanneer gewone mense verantwoordelikheid neem vir hul omgewing, hulle buitengewone verskilmakers kan wees. Daarom is die AfriForum-buurtspan in die omgewing reeds besig om planne te beraam om die lang gras in die gebied te sny om verdagtes se tipiese vlugroetes te beperk en sigbaarheid te verbeter.
AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag plaas ook ’n sterk fokus op opleiding en die gebruik van sekuriteitskameras. Dié benadering stel die span in staat om slim, strategies en veilig op te tree in hul poging om die gemeenskap te beskerm.
“Gemeenskappe wat betrokke raak, is gemeenskappe wat floreer. AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag is ’n voorbeeld van hoe daardie betrokkenheid lewens kan verander,” sê Ruan Janse van Vuuren, leier van AfriForum se Noord van die Berg-buurtwag.
Om deel te raak van AfriForum se Noord van die berg-strukture, kontak Janse van Vuuren by 065 868 0445.