AfriForum-buurtwag in Delmas raak probleem met veediefstal baas
AfriForum het op 17 Maart ’n nuwe opleidingsmodule bekendgestel om veediefstal in Mpumalanga te help bekamp. Die opleiding is vir lede van AfriForum se Delmas Valke-buurtwag aangebied.
Veediefstal is besig om groot skade in die landbousektor aan te rig, veral in Mpumalanga. Misdadigers steel vee in groot getalle en die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se veediefstaleenhede kan nie genoegsame ondersoeke doen nie weens ’n tekort aan hulpbronne en mannekrag. Daar word maandeliks miljoene rande se vee oor Mpumalanga heen gesteel.
“AfriForum het die tekort in die SAPD-veediefstaleenhede raakgesien en glo dat die oplossing by die bemagtiging van boere en buurtwagte – met die nodige kennis om veediefstal te help bekamp – lê,” sê Hennie Bekker, ’n distrikskoördineerder vir AfriForum in Mpumalanga.
Die opleiding fokus op praktiese stappe wat boere in samewerking met die SAPD kan doen om ’n groter impak teen veediefstal te maak. Dit behels ’n uiteensetting van die wetgewing wat gebruik word om veediefstal te reguleer en die wetgewing wat die merk van diere onderskryf. Buurtwaglede en boere word verder ook geleer wat is wettige en onwettige praktyke as dit kom by die koop, verkoop, vervoer en merk van diere.
“Ons het baie buurtwaglede in dorpe wat gereeld opmerk dat vee op sleepwaens aangery word. As hulle egter nie weet wat die regte en wettige praktyke is nie, kan hulle nie help om die misdadigers vas te trek nie” sê Bekker verder.
Verder gee die opleiding ook praktiese wenke vir boere of slagoffers van veediefstal om die toneel waar die veediefstal plaasgevind het so bes moontlik te bewaar sodat bewyse nie vernietig word nie. Dit is nie altyd moontlik vir veediefstaleenhede om spoedig by die tonele uit te kom nie en dit lei daartoe dat bewyse vernietig word deur die elemente waaraan dit blootgestel is.
“Met die praktiese wenke gaan ons die gemeenskap bemagtig sodat misdadigers twee keer moet dink voordat hulle weer vee steel. Die opleiding sal eersdaags vir al Mpumalanga se AfriForum-buurtwagte aangebied word,” sluit Bekker af.
Ondersteun AfriForum, besoek www.wordlid.co.za.