AfriForum-buurtspanne woeker terwyl Tshwane-metro nie dienste lewer
Terwyl die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit kopkrap oor tenders, toerusting, arbeid en begrotings staan AfriForum se vier buurtspanne in Pretoria nie vir ’n oomblik stil nie. Die AfriForum-buurtspanne het ontstaan uit ’n behoefte vir betroubare dienslewering wat nie tans deur talle munisipaliteite in die land gelewer word nie. Die vier buurtspanne in die Tshwane-metro is verbonde aan die Centurion, Groter Moot en Noord van die berg-tak en sluit die Pretoria-aksiespan in.
Dié buurtspanne het reeds in die eerste kwartaal van 2025 gewerk dat die stof staan en in totaal reeds 196,85 ha gras gesny; 38 ton vullis opgetel en verwyder; 11 ton teer gebruik om slaggate te herstel; 26 parkies skoongemaak en 49 ton items herwin.
Die kostes om die buurtspanne te laat funksioneer – salarisse, toerusting, brandstof en so meer – word uit lede se bydraes aan die betrokke takke gefinansier. Dít is volgens Sampie Steinberg, AfriForum se streekshoof vir die noordstreek, ’n bewys dat die Tshwane-metro nie noodwendig ’n gebrek aan fondse het om hierdie dienste te lewer nie, maar eerder dat hulle nie oor die wil beskik om hierdie dienste met belastingbetalers se geld te lewer nie.
“Die versoeke raak by die dag meer om van ons buurtspanne gebruik te maak, ongelukkig kan AfriForum se buurtspanne nie orals uitkom nie, maar ons probeer hard om ons gemeenskappe na die beste van ons vermoëns te help,” sê Steinberg.
Steinberg meen dat die Tshwane-metro moet uitreik na organisasies soos AfriForum om hulle te help met dienslewering. AfriForum het vroeg in Februarie met die Tshwane-metro vergader oor moontlike geleenthede vir samewerking.
Vir meer inligting oor die buurtspanne stuur asseblief navrae na die volgende e-posadresse:
- AfriForum se Centurion-buurtspan: voorsitter.centurion@afriforumtak.co.za
- AfriForum se Groter Moot-buurtspan: voorsitter.grotermoot@afriforumtak.co.za of grotermoot@afriforumtak.co.za
- AfriForum se Noord van die berg-buurtspan:sllewellynn.hemmens@afriforum.co.za of skakel Ebby van der Vyver by 084 026 9626
- AfriForum se Pretoria-aksiespan: sampie.steinberg@afriforum.co.za of llewellynn.hemmens@afriforum.co.za