|

AfriForum Brandweer help om vinnig restaurantbrand te blus

AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het verlede week (1 Desember) vinnig gereageer op ’n brand by ’n restaurant in Langenhovenpark. Dié privaatbrandweerdiens het binne twee minute nadat die noodroep gemaak is saam met Fire Ops SA op die toneel aangekom.

Rook het uit die restaurant gekom met die brandweer se aankoms op die toneel en klante het reeds die gebou ontruim. AfriForum Brandweer, in samewerking met Fire Ops SA, het vinnig werk daarvan gemaak om saam met die Mangaung-metro se brandweer die brand in die kombuis se skoorsteen en dak onder beheer te bring. Ná die brand geblus is, het die span die gebou geventileer en die toneel beveilig om verdere skade te voorkom.

Twee persone het brandwonde opgedoen en is ook behandel vir die rook wat hulle ingeasem het. Nooddienste het die slagoffers op die toneel gestabiliseer voordat hulle na ’n hospitaal geneem is vir verdere behandeling. Die oorsaak van die brand word tans deur die Mangaung-brandweer ondersoek.

Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Rosestad, sê hierdie voorval beklemtoon die belangrikheid van samewerking in noodsituasies. “Nooddienste speel ’n kritieke rol in die veiligheid van ons gemeenskap. Die samewerking tussen AfriForum Brandweer/Fire Ops SA en Mangaung-brandweer het ’n positiewe uitkoms verseker,” sê hy.

“Met die feestyd wat om die draai is, het AfriForum Brandweer sy paraatheid vir noodgevalle soos brande en ongelukke opgeskerp om die gemeenskap vinnig en effektief by te staan.”

AfriForum Brandweer het in November in samewerking met Fire Ops SA ook op die volgende noodsituasies gereageer:

  • Vyf veldbrande.
  • Agt struktuurbrande.
  • Een brandende voertuig.

Groenewald sê inwoners moet op die volgende let wanneer hulle ooit in ’n brand vasgekeer word:

  1. Bly laag wanneer jy deur die rook beweeg – rook styg opwaarts en kan vinnig asemhalingsprobleme veroorsaak. 
  2. Maak deure en vensters toe wanneer jy ’n brandende gebou verlaat om die verspreiding van vlamme te vertraag. 
  3. Stel ’n noodplan saam en oefen dit gereeld in met jou gesin. 

AfriForum Brandweer nooi die gemeenskap uit om aktief betrokke te raak by gemeenskapsveiligheid. Sluit vandag by AfriForum aan en ondersteun die span se pogings om ’n verskil te maak.  Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings