AfriForum blameer swak, ideologies-gedrewe bestuursbesluite vir SAUK-begrotingsnood
Klankgreep: Alana Bailey (Afrikaans)
Soundbite: Alana Bailey (English)
AfriForum meen een van die vernaamste redes vir die Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) se huidige finansiële verknorsing, is die feit dat swak bestuursbesluite geneem word, wat op ideologie, eerder as volhoubare besigheidsontwikkeling berus.
Hierdie kommentaar volg na aanleiding van ’n voorlegging wat dié uitsaaier gister (14 Mei 2025) aan die Parlement se Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SCOPA) gemaak het, waarvolgens ongeveer R7,5 miljard benodig word om kostes te finansier. Verder het die bestuur bevestig dat die SAUK ’n verlies van R700 miljoen in die 2023/2024-finansiële jaar gely het.
Volgens die uitvoerende hoof, Nomsa Chabeli, moet die fondse wat benodig word, uit die instelling se kommersiële aktiwiteite verkry word. Sy het genoem dat dit uiters moeilik is om dit reg te kry en selffinansierend te wees. Die SAUK het sowat twee jaar gelede alreeds ’n reddingsboei van ongeveer R3 miljard ontvang.
Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, meen dat dit onder hierdie omstandighede besonder vreemd is dat die bestuur dan toelaat dat besluite oor Afrikaanse programme en nuusbulletins geneem word wat duidelik ’n negatiewe invloed op kykersgetalle en advertensieverdienste het.
“’n Mens sou dink wanneer daar hoë kykersgetalle is wat adverteerders lok, sal die programme, tydsgleuwe en kanale wat daarvoor verantwoordelik is, gekoester word. Sodoende kan nie net die koste van hierdie programme gedek word nie, maar kan kruissubsidiëring geskied om ander nodige uitsendings se koste te dek. Die SAUK se TV-dienste het egter die afgelope jare verkies om gewilde Afrikaanse uitsendings te staak, die betaling van vervaardigers en ander diensverskaffers te probeer ontduik wat verhoudinge met leiers in die bedryf versuur het, en rondgespeel met die kanale en tye van Afrikaanse nuusbulletins, wat kykersgetalle dramaties laat afneem het.”
Chabeli het gister weer die versekering gegee dat die Afrikaanse nuusbulletin van 5 April 2025 weens ’n onbedoelde fout nie uitgesaai is nie en dat Afrikaanse TV-nuus veilig is. AfriForum voel egter steeds nie gerusgestel nie, aangesien té veel bronne in die SAUK laat blyk het dat die instelling voorberei daarvoor om Afrikaanse nuusbulletins oor naweke te staak.
AfriForum het op 9 April 2025 ’n formele versoek ingevolge die Wet op Bevordering van Toegang tot Inligting (ook bekend as PAIA) aan die SAUK gerig om antwoorde oor die toekoms van Afrikaanse TV-nuusuitsendings te eis. Geen reaksie is nog ontvang nie en AfriForum het dus die versoek met ’n appèl opgevolg.
“Vir baie mense bied die SAUK die enigste TV-nuusdiens waartoe hulle toegang het. Dit is daarom belangrik om te verseker dat die diens voortgesit en volhoubaar bestuur word,” meen Bailey.