AfriForum bevorder veiligheid by Jubilee Montessori-skool in Oudtshoorn
AfriForum se Oudtshoorn-tak het op 2 Julie ’n veiligheidsoudit by Jubilee Montessori gedoen om dié skool se veiligheid op te skerp. Die oudit vorm deel van AfriForum se pogings om gemeenskappe paraat en weerbaar te maak teen gevare wat Suid-Afrikaners daagliks in die gesig staar.
Die oudit handel oor basiese veiligheidsverwante kwessies soos die toestand van omheinings, voldoende beligting en die teenwoordigheid van sekuriteitskameras. Dit is só ontwerp dat die betrokke skool dit kan gebruik om kwesbare gebiede te identifiseer en op te knap. Die oudit stel ook skole in staat om gebeurlikheidsplanne vir verskeie moontlikhede in te stel, waaronder brande, vloede, gewelddadige protesaksies of ontvoerings.
AfriForum het onlangs onwettige besetters verwyder uit die ou begraafplaas wat teenaan die skool grens. Die skool het erge verliese gely nadat die besetters die skoolterrein betree en infrastruktuur beskadig het. Die besetters het ook die heining van die skool erg beskadig, wat ’n groot risiko skep.
“Dit is van kardinale belang dat kinders in ’n veilige omgewing kan skoolgaan. Misdadigers beskou skole dikwels as ’n sagte teiken, daarom is dit belangrik om proaktief te wees. AfriForum beveilig gemeenskappe as ’n geheel – nie net woonbuurte nie – daarom sal die burgerregteorganisasie nie toelaat dat misdaad ’n vastrapplek kry nie,” sê Marthinus Erasmus, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Suid-Kaap.
AfriForum het ook oudits beskikbaar vir kerke en plase. AfriForum wil graag jou skool of kerk oudit en jou gemeenskap nóg veiliger maak.
Sluit vandag nog aan by AfriForum se Oudtshoorn-tak en help hulle om meer te doen. Stuur ’n e-pos na marthinus.erasmus@afriforum.co.za of skakel Erasmus by 081 216 9602.