|

AfriForum bemagtig Vryheid se vroue met vuurwapenopleiding

AfriForum se Vryheid-tak het die afgelope naweek 30 vroue bemagtig met skietopleiding wat hulle sal help om hul gesinne en die gemeenskap te beveilig. Dié opleiding is spesifiek op Vrouedag gehou om vroue se waardevolle rol in die gemeenskap te vier.

Die behoefte aan skietopleiding pasgemaak vir vroue, het ontstaan ná ’n plaaslike inwoner Dawie Badenhorst in Maart 2023 in ’n huisroof doodgeskiet is. ’n Groep vroue, waaronder Badenhorst se eggenoot, Natasha, het daarna aangedui dat hulle vuurwapenopleiding wil ontvang om hulself sodoende teen aanvalle te bemagtig. Die eerste opleiding is later daardie jaar aangebied en hoewel net drie kandidate oorspronklik van die opleidingsgeleentheid wou gebruik maak, het tien vroue uiteindelik die 2023-kursus voltooi.  

Volgens Eugene van Aswegen, AfriForum se distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal, het die vraag na dié doelgemaakte opleiding aansienlik toegeneem. ’n Totaal van 32 vroue van Vryheid en die omliggende omgewing het die kursus se teoretiese sessies wat vroeër in die week aangebied is, bygewoon, terwyl 30 uiteindelik die afgelope naweek die praktiese komponent van dié opleiding op die skietbaan voltooi het.

Die teorie het veral gefokus op relevante wetgewing sowel as die veilige hantering van vuurwapens. Vir laasgenoemde is fopvuurwapens gebruik. Op die skietbaan is daar na regte vuurwapens oorgeskakel en voortgebou op dit wat in die klaskamer geleer is.

Die vroue wat die kursus bygewoon het, se terugvoering oor die opleiding was oorweldigend positief, sê Van Aswegen.

“Dit was ’n ongelooflike insiggewende oggend om ons vrouens toe te rus met die nodige vaardighede vir wanneer jy alleen is en jy jouself moet verdedig. Dankie AfriForum, dit was ’n wonderlike oggend,” sê Carin Lombard, ’n inwoner van Vryheid.

Nóg ’n kandidaat wat die opleiding voltooi het, Annakè du Toit, het tydens dié opleiding vir die eerste keer werklik ervaring in vuurwapenhantering opgedoen. Sy sê: “Ek het vandag vir die eerste keer geskiet. Dankie aan AfriForum vir die geleentheid.” Sy het die opleiding bygewoon om te leer hoe om haarself te beskerm, maar benadruk dat alle Suid-Afrikaners by die opleiding sal baat.

Van Aswegen sê daar is intussen reeds planne om meer gereeld vuurwapenopleiding aan te bied. “Die gewildheid van die kursus het sodanig gegroei dat ons beoog om dit voortaan een keer per kwartaal vir mans en vroue aan te bied. AfriForum ondersteun graag gemeenskappe wat self verantwoordelikheid vir die veiligheid van hul gesinne en die groter gemeenskap wil neem,” sê Van Aswegen.

Stel jy belang om ook dié kursus te doen? Belangstellendes in die Vryheid-omgewing is welkom om Van Aswegen (076 427 1757) of Joleen Putter (066 200 6484) vir meer inligting te kontak.

Soortgelyke plasings