AfriForum begin met regstappe teen Tshwane-metro oor nuwe heffing
Klankgreep: Deidré Steffens (Afrikaans)
Klankgreep: Deidré Steffens (Engels)
Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandeesweek met regstappe teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit begin om duidelikheid te kry oor implementering van dié metro se beoogdeomgewings- of stadsreinigingsheffing. Die metro beplan om dié maandelikse heffing, ten bedrae van nagenoeg R200 per maand, vanaf 1 Julie vanjaar in werking te stel. Dit sal gehef word op alle eiendom wat nie tans van munisipale vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie.
AfriForum het reeds op 2 April ’n versoek aan die Tshwane-metro gerig om duidelikheid oor die metro se planne rakende die nuwe heffing te bekom. Die metro het nie op die versoek gereageer nie. AfriForum het op 24 April sy kommentaar ingedien op die metro se konsepmediumtermyninkomste- en uitgaweraamwerk (MTREF) waarin die heffing afgekondig is. Daarin het die burgerregteorganisasie sy kommer oor die implementering van dié heffing – wat die organisasie as onbillike dubbele belasting bestempel – gelug.
In die brief wat AfriForum se regspan Woensdag (14 Mei 2025) aan die metro gestuur het, dring die organisasie nou daarop aan dat die metro teen nie later nie as 30 Mei terugvoer moet voorsien oor die voorgenome instelling van dié nuwe heffing.
“Ons regspan het dit duidelik gestel dat die konsepraamwerk waarin besonderhede oor die voorgestelde heffing vervat is, wesenlike teenstrydighede bevat en buitensporige diskresionêre mag aan die munisipale bestuurder in die toepassing van die heffing gee. Dit skep die onaanvaarbare ruimte vir misbruik en willekeurige toepassing,” sê Deidré Steffens, adviseur vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.
AfriForum se regspan eis in die skrywe aan die metro dat volledige terugvoer gegee word op die organisasie se voorleggings en besware oor die voorgestelde heffing wat in April ingedien is; dat die notules van die raadsvergadering waar die stadsreinigingsheffing ingestel is, aan AfriForum voorsien word; en dat ’n duidelike uiteensetting van die rasionaal vir die instelling van die nuwe heffing gegee word.
Indien die inligting nie teen die sperdatum gelewer word nie, staan AfriForum gereed om die hof hieroor te nader.
Volgens Steffens sal die implementering van die voorgestelde heffing strydig wees met artikel 74(2) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels wat vereis dat tariewe die werklike gebruik van dienste moet weerspieël en regverdig toegepas moet word. AfriForum het in sy vroeëre voorlegging aan die metro, sowel as in sy regsbrief op hierdie strydigheid met wetgewing gewys.
Steffens voer aan dat hoewel die Grondwet vereis dat munisipaliteite die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van gemeenskappe in hul begrotingsprosesse moet bevorder, dit nie met die beoogde implementering van hierdie heffing die geval is nie. ’n Diens wat nie inkomste genereer nie, soos ’n reinigingsheffing, word gewoonlik deur eiendomsbelasting gefinansier, en indien die metro dus met die voorgestelde implementering van hierdie heffing sou voortgaan, sal dit volgens Steffens op dubbele belasting neerkom.
“Dit is onaanvaarbaar dat ’n diens wat deur eiendomsbelasting befonds moet word, nou as ’n nuwe heffing herverpak word, skynbaar om die metro se begrotingstekorte te dek. Dit is ’n blatante poging om nog inkomste uit reeds oorbelaste inwoners te melk,” voeg Steffens by.
Die tydsberekening van die implementering van dié beoogde heffing is ook volgens AfriForum onbillik en volg kort op die hakke van die aankondiging oor die verhoogde eiendomswaardasies in dié metro wat in Julie vanjaar in werking tree.
Intussen doen gerugte ook die ronde dat inwoners van sekuriteitslandgoedere in die metro nou op hul munisipale rekeninge vir vullisverwydering gehef word ondanks bestaande ooreenkomste met privaat diensverskaffers vir die lewering van hierdie diens wat deur die metro goedgekeur is en inwoners kwytskel van hierdie munisipale heffing.