Afgradering van Benede-Oranjerivier-waterhulpbronklas sal laaste spyker in doodskis wees vir omliggende gemeenskap – AfriForum
Die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se voorneme om die ekologiese kategorie van die Benede-Oranjerivier af te gradeer na ’n hulpbronklas-3 sal volgens AfriForum die laaste spyker in die doodskis wees vir boere en omliggende gemeenskappe wat van dié rivier afhanklik is vir oorlewing.
Die DWS het in Mei vanjaar dokumentasie vrygestel waaruit dit blyk dat die aanbevole ekologiese kategorie vir die Benede-Oranjerivier weens toekomstige ontwikkelingscenarios nie nagekom kan word nie. Die hulpbronklas-3 gradering bied aan die Benede-Oranjerivier die laagste vlak van beskerming teen negatiewe invloede, dit hou dus ook risiko’s in vir diegene wat van die rivier afhanklik is vir drink- en besproeiingsdoeleindes.
Hierdie gradering word toegeken aan riviere wat reeds tot so ’n mate besoedel en oorgebruik is dat die natuurlike ekostelsels onherstelbaar beskadig is. Dus word riglyne waaraan watergehalte en ekostelsels moet voldoen ook verslap om grote onttrekkings en hoër vlakke van besoedeling toe te laat. Een van die nuwe maatreëls sluit onder meer in dat ’n verdere 12% van die rivier se vloei na Gauteng herlei sal word.
Volgens Thomas van Dalen, AfriForum se streekshoof vir die Noord-Kaap, moet die onwettige rioolstortings wat in die Benede-Oranjerivier plaasvind eers stopgesit word voordat hierdie drastiese stap gedoen word. “AfriForum het al talle klagtes by die Departement van Water en Sanitasie ingedien oor die disfunksionaliteit van die water- en rioolaanlegte in die Noord-Kaap en die storting van rou riool in die Oranjerivier wat daarmee gepaardgaan. Verder het ons ook verskeie kere berig oor die aanhoudende storting van rou riool in die rivier by Upington, Keimoes en Kakamas, asook in die Kamferdam in Kimberley.”
Fritz Bekker, verteenwoordiger van die organisasie Gariep Watch, verwys na navorsing wat deur dié organisasie gedoen is wat daarop dui dat sommige besoedelingstowwe reeds die internasionale konsentrasieriglyne vir drinkwatergebruik, landboubesproeiing en die oorlewing van akwatiese ekostelsels oorskry. Die permissiewe stroomopbestuurspraktyke wat met die hulpbronklas-3 kategorisering gepaardgaan sal daartoe lei dat die watervloei in die Benede-Oranjerivier in die toekoms stadiger en warmer sal wees. Dit beteken dat die water vir langer tydperke in aanraking met besoedelde sedimente sal wees. Verder sal verhoogde verdamping en verminderde verdunning in die Bo-Oranjerivier die bestaande besoedelingskonsentrasies verhoog.
“Hoewel die ekostelsels in die Benede-Oranjerivier onder hewige druk verkeer is dit nog springlewendig. Daar is selfs verskeie bedreigde en endemiese spesies wat daar voorkom wat beskerm moet word,” voeg Bekker by.
Van Dalen voeg by dat hierdie afgradering blyk om ’n poging te wees deur die DWS om hul eie onvermoë om hul verpligtinge na te kom te verbloem. “Die Noord-Kaap is reeds ’n droogtegeteisterde gebied en hierdie gewraakte voorgestelde maatreëls gaan hierdie kwessie net vererger. Die vermorsing van water in Gauteng gaan eers opgelos moet word voordat nog water uit die Oranjerivier in die bodemlose put van wangebruik verlore gaan. Dít ten koste van waterverbruikers in die Noord-Kaap vir wie die Oranjerivier hul enigste bron van water is.”
“Ons sal voortgaan om saam met organisasies soos Gariep Watch te werk om die pogings van die departement en die nasionale regering om hul wanpraktyke te verbloem aan die groot klok te hang,” sluit Van Dalen af.