|

Aanvaar ons hulp, sê AfriForum ná Dihlabeng-munisipaliteit se stilswye oor samewerkingsooreenkoms

AfriForum het op 1 April die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (Cogta) in ’n brief versoek om die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit aan te spreek oor die gebrek aan dienslewering in dié munispale gebied. Dit volg nadat AfriForum ’n helpende hand na die Dihlabeng-munisipaliteit uitgereik het, maar klaarblyklik wil die munisipaliteit nie die hulp aanvaar nie.

Amptenare van die Dihlabeng-munisipaliteit het in September 2024 tydens ’n vergadering met AfriForum se Bethlehem-tak ooreengekom dat ’n samewerkingsooreenkoms tussen die munisipaliteit en AfriForum voorgelê sou word. Hierdie samewerkingsooreenkoms sou verseker dat AfriForum en die munisipaliteit hande vat om swak dienslewering in Bethlehem die hoof te bied, asook om netheid te verbeter en veiligheid op te skerp. AfriForum het op 4 Februarie ’n formele samewerkingsooreenkoms aan die Dihlabeng-munisipaliteit oorhandig maar het tot nou toe geen terugvoer ontvang nie, daarom het AfriForum hom na Cogta gewend.

Intussen is Bethlehem steeds in ’n toestand van verval weens swak dienslewering en ’n toename in misdaad. “Hierdie agteruitgang skep die indruk dat die Dihlabeng-munisipaliteit eerder die dorp sal laat verval as om hulp te aanvaar en saam met ’n organisasie te werk wat gereedstaan om ’n positiewe verskil te maak. Die munisipaliteit se arrogansie gaan hulle nog duur te staan kom,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

AfriForum bly verbind tot sy missie om gemeenskappe te ondersteun en sal voortgaan om druk op die munisipaliteit te plaas om verantwoordbaarheid en samewerking te verseker.

Soortgelyke plasings