Privaat brandweersaak: Tshwane-metro moet opdok vir brouwerk, AfriForum gaan geld aanwend om privaat en burgerlike brandbestrydingsvermoë te versterk
’n Kostebevel in ’n interlokutêre beslissing wat die Hooggeregshof in Pretoria Vrydag aan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit opgelê het vir hul brouwerk in hul regsgeding teen die Sinoville-brandbestrydingsvereniging (SBBV) – waarin AfriForum se regspan hulle bystaan – sal nou aangewend word om privaat en burgerlike brandbestrydingsvermoë in dié metro te versterk. Die SBBV sowel as een ander privaat brandweerdiens is in ’n regstryd met die metro gewikkel nadat laasgenoemde in September verlede jaar ’n hofaansoek gebring het om privaat brandweerdienste wat in die metro funksioneer, onwettig te laat verklaar.
Regter J. Davis het Vrydag in ’n interlokutêre beslissing bevind dat die metro se regspan, Motsoeneng Bill Attorneys, nie betyds die nodige mandaat verkry het om in die saak namens die metro op te tree in die hofaansoek nie. Davis het in sy uitspraak die metro gekap en aangevoer dat dit duidelik is dat die mandaat wat wel later bekom is, op ’n onbevredigende en lukrake wyse gedoen is en dat dit blyk dat die metro deel van dié brouwerk is. Die regter het derhalwe beveel dat die metro én sy regspan die koste van die tussentydse aansoek moet betaal.
Die uitspraak volg op ’n interlokutêre aansoek wat SBBV in Oktober verlede jaar ingedien het waarin versoek is dat die beweerde mandaat van die metro se regspan geskrap en die aansoek – vir sover dit SBBV aangaan – van die rol verwyder moet word. Ten spyte daarvan dat die metro se regspan die aansoek afgemaak het as “ligsinnig” en “lastig” het dit intussen aan die lig gekom dat hul sogenaamde mandaat onvolledig was en nie deur getuies onderteken is nie; en dat die metro se regspan nie die nodige mandaat van die nasionale óf provinsiale Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake (DSRTS) verkry het om namens hulle op te tree nie.
Volgens Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum, is die toekenning van die kostebevel in die interlokutêre aansoek ’n belangrike oorwinning. “Hoewel die hof beslis het dat die hoofaansoek steeds moet voortgaan en nie van die rol verwyder gaan word nie, is hierdie oorwinning eerstens ’n bevestiging dat die metro nie bo die reg verhewe is nie. Tweedens is dit ook ’n oorwinning vir die gemeenskap, want die einste hofgeding wat poog om privaat brandweerdienste onwettig te laat verklaar, gaan nou daartoe bydra dat dié vermoë – te midde van toenemende ondoeltreffendheid van munisipale brandweerdienste – in die belang van die gemeenskap se veiligheid uitgebou en versterk word. Op ’n ironiese wyse is die metro se brouwerk in dié saak tot dusver ’n welkome aanwins vir privaat brandbestrydingsvermoë,” verduidelik Cooks.
Cooks hou intussen vol dat AfriForum daartoe verbind is om die hoofaansoek in samewerking met SBBV enduit te beveg om sodoende toe te sien dat privaat brandweerdienste se reg om die diens te lewer in die hof bevestig kan word en hul kritieke taak sonder teenstand van die metro of enige ander partye voortgesit kan word.