Stadsreinigingsheffing: Uitspraak voorbehou in AfriForum-hofsaak teen Tshwane-metro
Uitspraak is vandag voorbehou in AfriForum se hofgeding teen die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit rakende die implementering van die metro se omstrede stadsreinigingsheffing. Die saak is gister en vandag in die Hooggeregshof in Pretoria aangehoor.
AfriForum het die hof genader om die metro se besluit om dié nuwe verpligte maandelikse heffing van R194,37 (BTW uitgesluit) op nagenoeg 260 000 huishoudings en ondernemings in die metro ter syde te laat stel. Die burgerregteorganisasie hou vol dat die heffing neerkom op onbillike dubbele belasting, veral in gevalle waar inwoners nie enige voordeel trek uit die metro se vullisverwyderingsdiens nie én gedwing word om van privaat diensverskaffers gebruik te maak.

Die burgerregteorganisasie het verlede week na die metro gekap nadat die heffing reeds op inwoners se nuutste munisipale rekeninge bygevoeg is ten spyte van die burgerlike samelewing se skerp teenkanting daarteen én AfriForum se hangende hofsaak daaroor.
Intussen het die metro die implementering van die heffing probeer verdedig en voer nou aan dat die heffing sy oorsprong het in die metro se 2016-tariefbeleid. Dié beleid is egter nie saam met die metro se hofstukke ingedien nie omdat hulle self nie dié dokument – wat die metro as ’n “kritieke dokument” vir die saak bestempel – kon opspoor nie. Die metro het uiteindelik sy saak afgesluit sonder om die beleid te gebruik. AfriForum se regspan het die metro oor dié administratiewe flater gekritiseer en hou vol dat onvoldoende toegang tot belangrike munisipale dokumente soos verordeninge en beleide die metro se ondeursigtigheid beklemtoon.
AfriForum het voorts tydens die afgelope twee dae se hofverrigtinge die metro se argument dat dit oor die nodige toerusting en personeel beskik om voldoende vullisverwydering oor die hele metro heen te lewer, bevraagteken. Dié argument is volgens AfriForum teenstrydig met inwoners se daaglikse ondervinding in dié verband.
Die metro se argument rakende sy vermoë om die diens te kan lewer staan ook in stryd met ’n amptelike verslag wat die metro verlede week uitgereik en deur die raad goedgekeur het. Hoewel AfriForum nie die verslag as deel van sy saak in die hof gebruik het nie, skets dit ’n donker prentjie van die metro se mislukkings ten opsigte van afvalbestuur. Hierin word onder meer aangevoer dat die metro se organisatoriese vermoë ten opsigte van afvalbestuur baie swak is.
“Luidens die verslag is daar al verlede jaar gereken dat die metro se vullisterreine in die voorafgaande vyf jaar ’n totale verlies aan inkomste van R148 miljoen gely het. Die verslag maak verskeie aanbevelings om die probleme te beredder, insluitende die herstel van weegbrûe en die verbetering van sekuriteit op vullisterreine. Hierdie ingrypings is egter nie net al lankal noodsaaklik nie, dit beklemtoon ook die voortgesette wanbestuur en verwaarlosing wat die metro se afvalbestuursdienste teister,” sê Arno Roodt, AfriForum se streekskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
AfriForum benadruk dat die metro ’n ernstige tekort het aan samehangende institusionele meganismes vir die doeltreffende lewering van afvalbestuursdienste. Dit beskik voorts ook nie oor ’n goed gestruktureerde en beheerde strategie soos wat artikel 78 van die Wet op Munisipale Stelsels vereis nie. Dié wetgewing skryf volgens AfriForum kritieke wetgewende prosesse voor om te verseker dat munisipaliteite die mees geskikte wyse vir die doeltreffende en volhoubare lewering van dienste bepaal.
“Die metro hou in sy stukke voor dat hy die volle vermoë het om die betrokke dienste te kan lewer, maar die feite lê ’n totaal ander werklikheid bloot,” verduidelik Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake. “Ons het hier te make met ’n metro wat nie net toegelaat het dat vullisterreine miljoene rande in die water gooi nie, maar wat ook daarin misluk het om – soos die wet vereis – ’n raamwerk vir die lewering van basiese dienste te vestig. Die metro wil nou inwoners straf met die implementering van ’n arbitrêre heffing op dienste wat óf nie gelewer word nie óf ten gronde gaan.”
Roodt benadruk dat die “sogenaamde stadsreinigingsheffing nie, soos wat wetgewing dit vereis, op werklike gebruik gebaseer word nie. Hierdie heffing is ’n fondsinsamelingsprojek wat daarop gemik is om jare se swak beplanning en finansiële wanbestuur toe te smeer.”