Klerksdorp-tak gebruik leksel verf om 11 spoedhobbels weer sigbaar te maak
Die AfriForum-tak in Klerksdorp het kort voor die einde van die skoolvakansie 11 spoedhobbels in onderskeidelik Vlei-, Lewis-, William- en Erasmusstraat, asook Ottolaan geverf. Die tak het hierdie projek aangepak omdat die munisipaliteit herhaaldelik versuim om dit te doen en sodoende die lewens van motoriste en skoliere in gevaar stel.
“’n Spoedhobbel wat nie sigbaar is nie, is baie gevaarlik – veral wanneer die bome se skaduwees daaroor val en motoriste wat nie met die paaie vertroud is nie, daaroor ry. Die belangrike werk wat deur die tak onderneem is, maak ’n reuse verskil op hierdie paaie,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.








“Dit is egter ontnugterend om te sien dat dié verfwerk nie so uitdagend was soos wat die munisipaliteit wou voorgee nie. Dit is geheel en al onaanvaarbaar dat die munisipaliteit, wat veronderstel is om al die toerusting te hê om die taak vinnig te verrig, vir so lank nagelaat het om dit te doen dat die gemeenskap besluit het om self in te spring.”
AfriForum sal voortgaan om die mas op te kom in gevalle waar plaaslike munisipaliteite gemeenskappe faal. Besoek www.wordlid.co.za of kontak Pretorius by 081 392 2071 om by die AfriForum-tak aan te sluit.