Delareyville se paaie nou 250 slaggate minder danksy AfriForum
Die AfriForum-tak in Delareyville het die afgelope tyd skouer aan die wiel gesit om seker te maak dat die strate van die dorp veiliger vir alle motoriste is. Dié tak het in samewerking met B&R Motors oor die afgelope twee maande meer as 250 slaggate in die dorp opgevul en tien spoedhobbels aangebring om die paaie meer rybaar te maak.
“Die paaie in Delareyville was in ’n baie swak toestand gewees en ná verskeie pogings om die plaaslike munisipaliteit te kry om in te gryp, het AfriForum se Delareyville-tak ingespring en self die slaggate opgevul. Hierdie is weereens ’n bewys dat selfdoen beter is as niks doen,” sê JP Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
Die gemeenskap van dié dorp kon nie meer toekyk hoe motoriste se voertuie beskadig word nie, daarom bedank die tak graag B&R Motors, asook elke ander onderneming en individu wat besluit het om self iets aan die probleem te doen.
Die tak het verder ook twee parke in onderskeidelik Proteastraat en Geelhoutlaan se gras gesny, aangesien dit ’n ernstige veiligheidsrisiko ingehou het vanweë dit so lank was.
“’n Gemeenskap wat self inspring en probleme pak, is ’n gemeenskap wat lief is vir sy dorp. Die AfriForum-tak in Delareyville sal aanhou om druk op die munisipaliteit te plaas om beter dienste te lewer,” sê Nel.
Raak vandag nog by AfriForum se strukture betrokke. Klik hier vir meer inligting.