AfriForum maak groot groenstrook in Sasolburg aan die kant
Die AfriForum-tak in Sasolburg, in samewerking met studente wat verlede week deel was van AfriForum Jeug se mentorskapprogram, het op 8 Julie die groenstrook tussen die Shell-vulstasie en die R59 skoongemaak.
Voordat die gras gesny kon word, is die vullis eers opgetel. Daarna is die gras met bossiekappers en vier grasmasjiene gesny. Uiteindelik is 3,5 hektaar se gras gesny en twee vragte vullis weggery.
In een van die bosse wat gesny is, is ’n bos sleutels en ’n klomp stukkende slotte gevind, wat op moontlike kriminele aktiwiteite dui. Dit beklemtoon die belangrikheid om gras en bosse in toom te hou, anders hou dit ’n veiligheidsrisiko in.
“Die AfriForum-tak bedank elkeen wat aan hierdie skoonmaakprojek deelgeneem het. Dit is lekker as inwoners sommer opdaag met werkers om ons hande sterker te maak. Die jeuggroep het ook baie fluks gehelp en die werk laat voortspoed. Die jongmense het ’n goeie idee gekry hoekom AfriForum sê dat selfdoen beter is as niksdoen, veral in gevalle waar die munisipaliteite in gebreke bly om hulle werk na behore te doen,” sê Alta Pretorius, distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Die gemeenskap word aangemoedig om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak. Kontak Johan Hayward by 073 885 1365 om by die buurtwag betrokke te raak. Om by projekte betrokke te raak, kontak Braam Muller by 076 125 7773.
