Kommissie van ondersoek ’n aanklag teen die vermoë van bestaande wetstoepassingsagentskappe – AfriForum
AfriForum bestempel president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat ’n kommissie van ondersoek in die lewe geroep is om onder meer ernstige bewerings van politieke inmenging en korrupsie teen Polisieminister Senzu Mchunu, te ondersoek, as ’n ernstige aanklag teen die vermoë van bestaande wetstoepassingsagentskappe. Dit dui volgens AfriForum daarop dat dié agentskappe óf nie die vermoë het om die ondersoek te doen nie óf nie die vermoë het om dit sonder vooroordeel aan te pak nie, en daarom word daar nou na ’n ander instrument gesoek om die ondersoek te onderneem.
Kragtens Ramaphosa se aankondiging sal die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die Staatsveiligheidsagentskap (SVA), die regbank en die Johannesburg- en Tshwane-metro se metropolisie nou deur die kommissie van ondersoek, onder voorsitterskap van waarnemende adjunkhoofregter Mbuyiseli Madlanga, ondersoek word.
Volgens Jacques Broodryk, hoofwoordvoerder van Gemeenskapsveiligheid by AfriForum, het kommissies van ondersoek in Ramaphosa se tyd nog nie werklik vrugte afgewerp nie. Die gesloer met die implementering van die aanbevelings van die Zondo-kommissie se ondersoek na staatskaping dien as ’n voorbeeld hiervan.
“Kommissies van ondersoek word dikwels ingespan word om politieke ongemaklikhede te systap en op die lang termyn onder die mat in te vee,” verduidelik Broodryk. Hy hou vol dat die instelling van ’n kommissie van ondersoek duidelik nie gaan oor verantwoordbaarheid nie, maar oor die skyn daarvan in ’n poging om die publiek se guns te wen.
Luitenant-generaal Nhlanhla Mkhwanazi, KwaZulu-Natal se Provinsiale Polisiekommissaris, se bewerings van korrupsie teen hooggeplaaste individue, insluitend Mchunu, het sedert verlede week skokgolwe deur die land gestuur. Mkhwanazi het onder meer beweer daar is pogings om hoëprofiel-ondersoeke te saboteer en individue wat by georganiseerde misdaad en korrupsie betrek word, te beskerm.
“Ramaphosa het gisteraand ’n ‘veilige’ politieke antwoord sonder enige ware byt op ’n reuse- kriminele probleem gebied. Tog vereis ernstige bewerings van dié aard ’n kriminele ondersoek en nie politieke optrede nie,” verduidelik Broodryk. “Indien Ramaphosa ernstig was daaroor om kriminaliteit in die regering en wetstoepassingsagentskappe te takel, was dit nou die geleentheid om bekwame ondersoekers die geleentheid te gee om sonder politieke druk of inmenging hul werk te doen. ’n Kommissie van ondersoek word dikwels as ’n politieke vertragingstaktiek ingespan en het geen bindende wetlike magte of kriminele aanspreeklikheid nie. Suid-Afrika het nie nog ’n duur verslag nodig wat net gaan lê en stof opgaar terwyl korrupsie voortduur nie.”