Brand, huisbrand

AfriForum waarsku teen gevare van gas ná ontploffing tweejarige se lewe eis

Klankgreep: Tarien Cooks (Afrikaans)
Klankgreep: Tarien Cooks (Engels)

In Suid-Afrika word hoofsaaklik gas gedurende die winter gebruik om hitte teen die koue te bring. AfriForum waarsku egter dat vloeibare petroleumgas (VPG), ’n gewilde brandstofbron wat in baie huishoudings gebruik word vir kook en verhitting, gevaarlik kan wees indien dit nie behoorlik hanteer word nie. Dié waarskuwing volg nadat ’n tweejarige seuntjie Dinsdagaand (8 Julie) dood is weens ’n gasontploffing by ’n huis in die noorde van Pretoria. Enkele dae tevore – op Vrydag 4 Julie – is drie mense in Springs beseer, ook weens ’n gasontploffing.

“Die gebruik van verwarmers, kaggels en gastoestelle vir verhitting neem hierdie tyd van die jaar toe, dus ook die risiko van vernietigende en selfs dodelike huisbrande. Ons doen ’n ernstige beroep op die publiek om ekstra versigtig te wees wanneer hulle vloeibare petroleumgas gebruik – maak seker dat toerusting in ’n goeie toestand is, dat daar behoorlike ventilasie is en dat kinders nooit alleen gelaat word naby gasstoestelle nie,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis by AfriForum.

AfriForum beklemtoon dat rookverklikkers lewens kan red maar slegs as dit in werkende toestand is om betyds te waarsku. Daar word aanbeveel dat elke verdieping van ’n huis ten minste een werkende rookverklikker het, veral naby slaapkamers.

Nog ’n belangrike veiligheidsmaatreël wat dikwels oor die hoof gesien word, is ’n eenvoudige ontruimingsplan met meer as een uitgang. Gesinne moet vooraf bespreek wat om te doen as ’n brand uitbreek. Wie help die kinders of ouer persone? Waar ontmoet almal buite?

“Stel ’n duidelike versamelpunt buite die huis saam, soos die voorste hek of ’n spesifieke boom en oefen die ontruimingsplan, al is dit net een keer per maand. Paniek word beheer deur voorbereiding,” sê Cooks.

AfriForum deel die volgende wenke vir die veilige gebruik van VPG in jou huis:

  • Maak seker jou VPG-stelsel is behoorlik deur ’n gekwalifiseerde tegnikus geïnstalleer. Inspekteer en hou jou stelsel gereeld in stand om toe te sien dat dit in ’n goeie, werkende toestand is.
  • Moenie met die VPG-stelsel peuter nie. Dit sluit die verandering en die herstel daarvan in.
  • Bêre VPG-silinders in ’n koel, droë plek, weg van hittebronne en direkte sonlig. Hou dit regop en maak seker dat dit stewig vasgemaak is.
  • Gebruik VPG-toestelle in ’n goed geventileerde omgewing. Maak vensters of deure oop om behoorlike lugvloei te verseker.
  • Moenie VPG-toestelle sonder toesig los terwyl jy dit gebruik nie. Draai altyd die gas toe as jy klaar gekook of verwarm het.
  • Hou ’n brandblusser byderhand in geval van ’n noodgeval.
  • Moenie rook of vuurhoutjies naby VPG-toestelle of -silinders gebruik nie.
  • In geval van ’n gaslekkasie, draai dadelik die gastoevoer af en maak vensters en deure oop om die omgewing te ventileer. Ontruim die plek en bel die nooddienste. Moenie elektriese skakelaars of -toestelle of ’n vuurhoutjie aansteek of aansteker gebruik naby die lekkasie nie.

Benewens die gevare van gas, waarsku AfriForum dat huisbrande ook in die koue wintermaande al hoe meer voorkom. Reeds vanjaar het ’n aantal huisbrande, wat verband hou met die gebruik van kaggels, verwarmers en gastoestelle vir verhitting, lewens geëis.

“In die afgelope paar maande is verskeie lewens reeds in huisbrande verloor. ’n Huisbrand is vinnig, warm, donker en dodelik. Rook versprei vinniger as wat jy dink en die meeste sterftes in huisbrande is nie van die vlamme nie, maar van rookinaseming. ’n Rookverklikker koop vir jou daardie paar minute om jou gesin uit die huis te kry,”  sê Cooks.

AfriForum waarsku om brandbare materiale weg van verwarmers en kaggels te hou, om verwarmers en elektriese toestelle af te skakel wanneer jy slaap of die huis verlaat en om ’n brandblusser of brandkombers in die kombuis en leefkamers te hou.

AfriForum deel ook praktiese wenke in die aangehegte dokument oor wat om te doen voor, tydens en na ’n huisbrand.

Soortgelyke plasings