|

AfriForum-sukses: Bethlehem se munisipaliteit maak voorbrande ná volgehoue druk

AfriForum se volgehoue druk op die Dihlabeng Plaaslike Munisipaliteit om die nodige voorbrande te maak om die Bethlehem-gemeenskap teen verwoestende veldbrande te beskerm, het uiteindelik vrugte afgewerp. Die burgerregteorganisasie het ná die jongste brand op die dorp daarin geslaag om die munisipaliteit te dwing om hierdie broodnodige voorsorg te tref.

Ná talle skrywes en versoeke het die munisipaliteit eindelik ingestem om voorbrande in woongebiede wat aan grasvlaktes grens, te maak. Die dringende beroep volg nadat ’n onlangse veldbrand in die Morelig-woonbuurt dreigend naby aan inwoners se eiendomme gewoed het. Die brandweer het Dinsdag voorbrande in die Morelig-gebied begin.

“Op aandrang van AfriForum is die voorbrande nou gemaak. Dié gemeenskap kan gerus wees in die wete dat hulle eiendomme teen moontlike verwoesting beskerm is,” sê Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland.

Voorvalle soos die verwoestende brand by die Bethlehem-lughawe op 7 September 2024, wat honderde duisende rand se skade veroorsaak het én die eiendom in Bohlokong wat op 30 Junie ten aanskoue van die publiek afgebrand het, beklemtoon die dringendheid van proaktiewe maatreëls.

“Vir jare lank dring die gemeenskap daarop aan dat die plaaslike brandweer met genoegsame kapasiteit en die nodige toerusting toegerus word om hierdie soort voorbrande te doen. Dit is egter eers wanneer burgerlike organisasies soos AfriForum self aksie neem wat die munisipaliteit inspring,” sê Ikking.

AfriForum is van voorneme om in die toekoms nou saam met die brandweer te werk om voorkomend op te tree en gemeenskappe teen veldbrande te beskerm. Die burgerregteorganisasie doen intussen ’n beroep op die munisipaliteit om volhoubare samewerking met gemeenskapsorganisasies te prioritiseer en voldoende hulpbronne aan die brandweer te voorsien om toekomstige rampe te voorkom.

Soortgelyke plasings