AfriForum eis dringende ingryping by Welkom-waterkrisis, wyl munisipale bestuurder pleidooie ignoreer
AfriForum doen ’n beroep op die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit om dringend by die huidige waterkrisis in Residentia in Welkom in te gryp. Inwoners van dié woonbuurt worstel al vir meer as ’n week lank met ’n ernstige tekort aan water. Die organisasie eis ook dat Thabo Panyani, die munisipale bestuurder, aanspreeklik gehou word vir hierdie waterkrisis omdat hy die munisipale werkers glo verbied het om die probleem oor die naweek op te los.
Huishoudings is sedert Maandag 30 Junie sonder water, terwyl die Matjhabeng-munisipaliteit en Panyani inwoners se pleidooie bloot geïgnoreer het. Inwoners het talle e-posse, geskrewe briewe en WhatsApp-boodskappe aan Panyani oor die waterkrisis gestuur én hom probeer bel, maar geen reaksie ontvang nie. Die oorsaak van die waterprobleem is onbekend.
Christa Ikking, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoogland, het op Saterdag 5 Julie Panyani direk gekontak nadat sy klagtes oor sy stilswye ontvang het.
Panyani het egter beweer dat hy nie bewus is van enige waterprobleme in Welkom nie, ten spyte daarvan dat AfriForum duidelike bewyse gehad het van verskeie boodskappe wat aan hom gestuur is met besonderhede oor die krisis. Nadat Ikking die dringendheid van die situasie beklemtoon het en die betrokke liggings weer aan hom moes deurgee, het hy belowe om ondersoek in te stel.
Dit het egter aan die lig gekom dat Panyani munisipale werkers uitdruklik opdrag gegee het om nie die waterprobleem oor die naweek op te los nie, wat die gemeenskap dae langer as nodig sonder water gelaat het.
Teen Maandag 7 Julie was die situasie steeds onveranderd. Inwoners se krane was nog droog met steeds geen kommunikasie van Panyani of die munisipaliteit oor die probleem nie.
“Inwoners het ’n reg op skoon water. Die Matjhabeng Plaaslike Munisipaliteit se arrogansie en nalatigheid, is onaanvaarbaar aangesien die munisipaliteit nie sy verpligtinge teenoor de gemeenskap nakom nie. Die voortdurende krisis het gelei tot toenemende beroepe vir die privatisering van die munisipaliteit om verantwoordbaarheid te verseker en doeltreffende dienslewering te herstel,” sê Ikking.