AfriForum-hofstukke ingedien in mylpaalsaak oor magte van SAMRK
Die burgerregteorganisasie AfriForum het hofstukke ingedien om as vriend van die hof (amicus curiae) toegelaat te word in ’n Konstitusionele Hof-saak wat sal bepaal of die bevindinge en aanbevelings van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) regtens bindend is of nie.
In hul voorleggings aan die hof voer AfriForum aan dat die Grondwet en wetgewing dit duidelik maak dat die SAMRK nie die mag het om besluite te neem wat wetlik bindend is nie – in pas met internasionale tendense. AfriForum se betrokkenheid as vriend van die hof in hierdie saak is om die grondwetlikheid, relevante oorwegings en internasionale gebruike voor die hof aan te bied en die hof te help om ’n billike en grondwetlike bevinding te maak. As ’n burgerregteorganisasie vervul AfriForum dikwels hierdie rol om regspresedent positief te beïnvloed deur middel van regspraak.
In 2024 het die Hoogste Hof van Appèl beslis dat die SAMRK se bevindinge nie op sigself afdwingbaar is nie en slegs deur ’n hof afgedwing kan word. AfriForum het ook in hierdie saak opgetree as vriend van die hof, ten spyte van die SAMRK se misnoeë. Die appèlhof se uitspraak is gelewer in ’n saak tussen die SAMRK en die landboumaatskappy AgroData, waarin die SAMRK aangevoer het dat hul bevindinge en riglyne in ’n dispuut rakende boorgattoegang bindend was.
Volgens Ernst van Zyl, hoof van openbare betrekkinge by AfriForum, is hierdie tipe debatte rondom die skeiding van magte en die beperkings van hierdie mag vir instellings soos die SAMRK van groot belang vir burgerregteorganisasies soos AfriForum.
“Dit is opwindend om te kan bydra tot so ’n mylpaalsaak met sulke verreikende implikasies. Instellings behoort nie meer mag te hê as wat hulle grondwetlik toegeken is nie, veral nie instellings met soveel omstredenheid en gevalle van dubbele standaarde op hul rekord soos die SAMRK nie,” sluit Van Zyl af.