Belastingbetaler g’n neklêer – AfriForum hof toe oor stadsreinigingsheffing
AfriForum sal die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit na verwagting teen 24 Julie op ’n dringende basis in die hof daag om die metro se besluit vir die implementering van ’n sogenaamde “stadsreinigingsheffing” te keer. Die metro beoog om met dié heffing byna 200 000 residensiële- en meer as 60 000 sake-eiendomsbelastingbetalers te dwing om op te dok vir ’n heffing wat AfriForum beskou as onbillike dubbele belasting. Luidens die metro se oorspronklike kommunikasie tree dié heffing reeds vandag (1 Julie 2025) in werking, maar AfriForum is intussen in kennis gestel dat geen verhaling voor 1 Augustus gedoen sal word nie. Die heffing sal, indien dit geïmplementeer word, ’n arbitrêre R194,37 per maand van geraakte huishoudings invorder – sonder om enige ooreenstemmende dienslewering in ruil daarvoor te bied.
AfriForum het oorspronklik ’n aansoek om ’n dringende interdik aangevra in ’n poging om die implementering voor vandag te stop, maar na aanleiding van ’n ooreenkoms tussen AfriForum en die metro, het laasgenoemde nou verdere geleentheid om hul hofstukke aan te vul. Die saak sal nou op 24 Julie in die Pretoria Hooggeregshof aangehoor word.
Eienaars wat nie van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie, behoort nie bykomende belasting opgelê te word, terwyl die metro nie in staat is om hul betalende inwoners pligsgetrou te dien nie. Dít is die kern van AfriForum se regsgeding. Die organisasie meen dat dié heffing op niks anders as dubbele belasting neerkom nie, aangesien inwoners reeds eiendomsbelasting betaal wat veronderstel is om sogenaamde “stadsreiniging” te finansier.
In hul hofstukke argumenteer AfriForum dat die Tshwane-metro sy finansiële wanbestuur en begrotingstekorte probeer verbloem deur nóg geld van hardwerkende belastingbetalers te eis – onder die dekmantel van ’n “reinigingsheffing” – eerder as om die werklike oorsake van die begrotingstekort (soos korrupsie en wanbestuur) aan te roer.
AfriForum meen dat die metro se verweer gebaseer is op twyfelagtighede en beskou voorts ook die wyse waarop die metro na sy betalende inwoners verwys as skandelik. Die metro – wat deur die afdelingshoof vir Vullisbestuur, Louis Makhubele, verteenwoordig word – het in hul antwoordende beëdigde verklaring só ver gegaan as om belastingbetalers as “neklêers” en “begunstigdes wat geen bydrae lewer nie” af te maak.
“Hierdie venynige uitbeelding is ’n klug en uiters minagtend. Hierdie belastingbetalers is die ruggraat van die Tshwane-metro se inkomstebronne, en dra jaarliks miljarde rande in eiendomsbelasting en ander heffings by. Tog gaan die metro voort om inwoners te verag omdat hulle verantwoordelikheid vir hul eie vullisverwydering neem. Dít terwyl die munisipaliteit deurlopend daarin faal om ’n diens, wat grondwetlik van hulle vereis word, te lewer.” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.
In plaas daarvan om verantwoordelikheid te aanvaar of om verskoning te vra vir die jarelange pligsversuim, reageer die metro met arrogansie deur AfriForum se saak as “hopeloos” af te maak en selfs die publiek se reg om die raadsbesluit aan te vat te bevraagteken. Die metro is openlik minagtend teenoor die finansiële opofferings wat gesinne noodgedwonge moes maak en ook vir die regs-, grondwetlike en morele vrae wat AfriForum opper. Dit is duidelik dat hulle uit voeling is met die publiek en selfs vyandig is teenoor die gemeenskap in wie se diens hulle veronderstel is om te staan.
“Die saak gaan nie net oor ’n heffing nie. Dit gaan oor ’n metro wat belastingbetalers as kontantkoeie beskou en hulle dan sonder skaamte beledig terwyl basiese dienste herhaaldelik misluk. Die Tshwane-metro het koers verloor en straf nou sy belastingbetalers vir sy eie onvermoë om ’n begroting te balanseer. Ons sal nie sulke skandelike optrede duld nie en die howe behoort dit ook nie te doen nie,” sê Roodt.
AfriForum waarsku dat dié krisis in die Tshwane-metro nie ’n unieke voorval is nie, maar eerder ’n simptoom van ’n wyer patroon van munisipale verval, waar inwoners die las van wanfunksionele stadsrade moet dra. Die organisasie voer aan dat, indien dié heffing nie gestuit word nie, dit ’n gevaarlike presedent sal skep vir munisipaliteite oor die hele land heen om eenvoudig hulself uit mislukking te “hef”, sonder aanspreeklikheid of werklike dienslewering.
AfriForum onderneem om die saak voort te sit in die hof totdat die heffing tersyde gestel is.
Besoek www.wordlid.co.za om by dié stryd aan te sluit, ’n bydrae te maak of om ’n lid van AfriForum te word.