Stellaland-buurtwagte lê meer as 2 000 km tydens massapatrollie af
Die AfriForum-buurtwagte in Bloemhof, Christiana, Delareyville, Biesiesvlei, Vryburg en Wolmaransstad het die afgelope naweek in samewerking met die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), gemeenskapslede, verskeie privaat sekuriteitsmaatskappye en plaaslike veiligheidstrukture ’n massapatrollie in hul onderskeie gebiede uitgevoer. Dié patrollies het ten doel gehad om polisiëringsigbaarheid op te skerp. Die patrollies het om 18:00 Vrydag (20 Junie) begin en tot 04:00 die volgende oggend geduur.
Altesaam 79 patrolleerders het aan die patrollies deelgeneem en in die proses 2 338 km in 54 voertuie afgelê. Die impak wat dié patrollies op misdaad in die gebiede gehad het, is duidelik sigbaar. Die hoofdoel van die patrollies was om sigbaarheid in die onderskeie gebiede te verhoog om sodoende misdaad hok te slaan. Gevolglik is geen ernstige insidente tydens die patrollies aangemeld nie.
AfriForum se Vryburg-buurtwag, in samewerking met ander rolspelers, het wel ’n gesteelde voertuig opgespoor nadat daar inligting ontvang is dat die voertuig in die omgewing rondbeweeg. Vinnige optrede deur die buurtwag, plaaslike veiligheidstrukture en die SAPD het daartoe gelei dat die voertuig onderskep en aan wetstoepassers oorhandig kon word.
“Die Stellaland-buurtwagte pak voortdurend veiligheidsprojekte aan en ry gereeld patrollies om misdaad in samewerking met die SAPD en ander veiligheidstrukture hok te slaan. Dit is slegs deur die samewerking tussen gemeenskappe, burgerlike organisasies en wetstoepassers dat misdaad doeltreffend bekamp word. Die verhoogde sigbaarheid in dorpe speel ’n belangrike rol in gemeenskapsveiligheid en daarom is dit belangrik dat patrollies soos hierdie moet plaasvind,” sê Jp Nel, AfriForum se distrikskoördineerder vir Stellaland.
“Die opleiding wat AfriForum vir sy buurtwaglede aanbied word tydens patrollies soos dié duidelik ten toon gestel. Omdat buurtwagte so ’n kritieke rol in die beveiliging van gemeenskappe speel, moedig ons ander dorpe en gemeenskappe aan om by AfriForum se strukture betrokke te raak,” sluit Nel af.
Die Stellaland-buurtwagte wil graag elke patrolleerder en elke ander rolspeler wat aan hierdie suksesvolle patrollie deelgeneem het, bedank vir hul opofferings.
Raak vandag nog by AfriForum se buurtwagte betrokke en help om jóú omgewing te beveilig. Klik hier vir meer inligting.