AfriForum laat minstens 30 000 vierkante meter se gras in Secunda waai
Die buurtspan van AfriForum se Trichardt-Evander-Kinross-Secunda-tak (oftewel die Teks-tak) het in Mei meer as 33 000 vierkante meter se gras in Secunda gesny en skoongemaak.
Die buurtspan het eers op Nelson Mandela-rylaan gefokus. Hierdie projek is voortgesit nadat die span al in April daar begin werk het. Meer as 12 000 vierkante meter se oppervlakte is langs die pad skoongemaak. Lang grasse is afgesny en die gemors is weggery.
Die Teks-buurtspan het ook weereens saam met Secunda Steamers en die Groenstrook Gabbas om die Eendedam gewerk. Die projek is ook sedert April aan die gang met ’n verdere 1 200 vierkante meter se gras wat in die park gesny is. Daar is ook 1 500 vierkante meter se oppervlakte in Generaal De Wetstraat skoongemaak.
“AfriForum het verskeie buurtspanne wat volhoubare projekte oor die Hoëveld heen dryf. Die spanne maak gebiede skoon en herstel slaggate en is voortdurend besig om die verval om te keer. Ons gaan nie wag vir enige staat of munisipaliteit om ons dorpe reg te ruk nie – ons sal dit self doen,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.
Die Hoërskool Secunda het ook AfriForum se hulp ingeroep om die groenstrook naby die skool netjies te maak. Kinders en inwoners, wat die groenstrook as deurgang gebruik, was bekommerd oor misdaad nadat daar in April en Mei mense in groenstroke aangeval is. AfriForum het meer as 12 000 vierkante meter se gras in die groenstrook naby die hoërskool gesny en opgeruim. Die Groenstrook Gabbas het met die projek gehelp.
Laastens het die buurtspan die Davieshof-sentrum se perseel skoongemaak. Daar is meer as 7 200 vierkante meter se gras gesny en opgeruim. Die buurtspan het dit op hulself geneem om die perseel netjies te hou omdat die Govan Mbeki Plaaslike Munisipaliteit dit nie behoorlik doen nie.
“Ons span maak ’n reuse-verskil. Meer as 180 000 vierkante meter se oppervlakte is al vanjaar opgeruim. Ons versoek mense om met ons te skakel sodat ons die inisiatief meer volhoubaar kan uitbrei,” sê Jan du Plessis, voorsitter van AfriForum se Teks-tak.
Ondersteun AfriForum, besoek www.wordlid.co.za.