Bethal skoner – en met minder slaggate – danksy AfriForum
AfriForum se Bethal-tak het ’n aantal projekte in Mei aangepak om die dorp op te knap. Dele van Bethal se gras is gesny en oorgroeide bosse is verwyder, terwyl daar minstens 300 sakke teer gebruik is om slaggate op te vul.
Die skoonmaakprojek in Du Plooystraat in die sentrale sakekern is voortgesit waartydens ’n groot bos op die hoek van Percy de Kock- en Du Plooystraat verwyder is. Die bos het die sypaadjie weerskante van Du Plooystraat toegegroei en het ’n risiko ingehou vir die bejaardes van die Silwerjare Tehuis, wat te voet of met behulp van mobiliteitstoerusting heen en weer tussen die tehuis en die Spar-winkelsentrum beweeg het.
Die tak het ook die reuse-slaggat voor die Spar-winkelsentrum se ingang herstel. Die gat is met 38 sakkies koue teer gevul.
Verder het AfriForum ook namens inwoners van Simonstraat slaggate in dié straat, tussen Malherbe- en Wockestraat, gevul. Die inwoners het AfriForum se Bethal-tak gekontak en die teer geborg om die gate voor hulle huise te herstel. Daar is 90 sakke teer tydens die projek gebruik.
Inwoners van Tsibitso Sibanyonistraat het ook met AfriForum geskakel om hulle met slaggatherstelwerk in dié straat, tussen Wocke- en Kieserstraat, te help. Daar is 180 sakkies teer tydens hierdie projek gebruik. Die res van Tsibitso Sibanyonistraat, tussen die N17 en Van Riebeeckstraat, word ook nou herstel.
“Inwoners wat graag slaggate wil herstel, kan gerus met ons kontak maak. Hou egter in gedagte dat sekere strate nie meer herstelbaar is nie. Dit is wel belangrik dat ons red wat nog te redde is,” sê Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir AfriForum in die Hoëveld.
Verder het die tak ook die N17 se sypaadjies reg deur die dorp skoongesny. Hierdie pad is die belangrikste hoofroete deur die dorp en skep ook die eerste indruk wat besoekers van Bethal kry. Van die gras het so hoog gegroei dat voetgangers eerder en in die straat geloop het, wat ’n groot veiligheidsrisiko inhou.
“AfriForum is dankbaar om die verskil in Bethal te maak én te wees. Dit is ooglopend in watter dele van die dorp ons werksaam is en daarvoor is inwoners ewig dankbaar,” sluit Bekker af.
Ondersteun AfriForum, besoek www.wordlid.co.za.
