|

AfriForum eis antwoorde oor Emfuleni se vullisverwyderingsdienste

AfriForum het op 10 Junie ’n formele aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (PAIA) aan die Emfuleni Plaaslike Munisipaliteit gerig om volledige besonderhede oor die munisipaliteit se vullisverwyderingsvoertuie, kontrakte, diensverskaffers en begrotingsinligting te bekom.

Hierdie versoek spruit uit kommer oor ernstige wanfunksionering ten opsigte van vullisverwyderingsdienste, soos uitgelig in onlangse nuusberigte. Luidens berigte maak die Emfuleni-munisipaliteit gebruik van privaat diensverskaffers vir huishoudelike vullisverwydering ten spyte van  bestaande vullisverwyderingsvoertuie en permanente werknemers in die munisipaliteit se afvalbestuursafdeling. Dié praktyk dui moontlik op dubbele besteding aan munisipale werknemers én kontrakteurs, sowel as wanbestuur.

“AfriForum tree op om deursigtigheid, aanspreeklikheid en goeie regering te bevorder. Die publiek het die reg om te weet hoe hul geld bestee word en waarom basiese dienste faal,” sê Stephanus Blignault, AfriForum se distrikskoördineerder van die Wes-Rand.

AfriForum se PAIA-aansoek eis onder meer ’n volledige lys van bates waarop alle munisipale en gehuurde vullisverwyderingsvoertuie uiteengesit word, sowel as die toestand en diensgeskiedenis daarvan; afskrifte van alle kontrakte met privaat diensverskaffers;  begrotingsinligting oor salarisse, kontrakte en instandhouding van toerusting en voertuie; en inligting oor gebiede waar vullisverwyderingsdienste gelewer word of nie beskikbaar is nie.

AfriForum versoek dat die inligting sonder onredelike vertraging verskaf word, en dat enige vertroulike derdeparty-inligting gepas verwerk word soos deur die wet vereis.

Soortgelyke plasings