|

AfriForum-tak en plaaslike boere versprei meer as 260 000 liter water tydens wateronderbrekings op Bethal

’n Boer (en AfriForum) maak altyd ’n plan! Dit is die afgelope tyd weer op Bethal bevestig toe meer as 260 000 liter water, tydens die tien dae lange wateronderbrekings op dié dorp, aan inwoners beskikbaar gestel is. Die grootskaalse wateronderbreking, wat op 29 Mei aangebreek en tot die afgelope naweek voortgeduur het, het gevolg op geskeduleerde instandhouding wat Rand Water onderneem het.

AfriForum se Bethal-tak het dié reusepoging in samewerking met plaaslike boere aangepak. Boere het, ondanks die druk wat tans te midde van strooptyd ondervind word, sonder huiwering hul trekkers en watertenkwaens beskikbaar gestel en ingespring om dorpenaars tydens die onderbreking by te staan.

Hulp is toegespits op veral plaaslike skole, insluitend Laerskool H.M. Swart, Tadashi Akademie, BCVO Privaatskool Hoëveldrif, Wonderland-kleuterskool en Jim Van Tonderskool. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) op dié dorp het ook op AfriForum se knoppie gedruk tydens dié wateronderbrekings en is van water voorsien.

Volgens Hennie Bekker, distrikskoördineerder vir die Mpumalanga Hoëveld, het die Govan Mbeki-munisipaliteit AfriForum genader en versoek om by plaaslike boere aan te klop om hulp aangesien die waternetwerk reeds voor die aanvang van die instandhoudingsprojek leeg was. Die opgevulde tenkwaens is in die Bethal-gemeenskap versprei om sodoende dié noodsaaklike hulpbron aan die gemeenskap te lewer. Ook die plaaslike brandweerdiens het ’n soortgelyke versoek gerig, waaraan gehoor gegee is, en waardeur daar verseker is dat dié diens – in die geval van brande – onverpoos voortgesit sou kon word.

“Die Bethal-gemeenskap het in die afgelope paar jaar geleer om in uitdagende tye saam te staan. Hier word daar nie meer getob en moedeloos gewonder oor waar en wanneer ons water gaan hê nie – ons maak self planne daarvoor!” sê Bekker.

AfriForum-noodwaterpunt by die AC Kerk het op sy beurt oudergewoonte ook die gemeenskap bygestaan. Dié waterpunt, wat nou ook ’n eie boorgat tot sy beskikking het om meer volhoubare watervoorsiening te bewerkstellig, het ’n reusebydrae gemaak om waternood in die dorp te verlig. Die vraag na water was egter hierdie keer só groot dat watertenks ook hier uitgehelp het om deurlopende watervoorsiening te verseker.

“Dié kerk en sy lidmate het weer, soos hulle reeds etlike jare lank doen, onbaatsugtig diensbaar gestaan om in hierdie waternood verligting te bring. AfriForum én die Bethal-gemeenskap is hulle innig dankbaar,” sluit Bekker af.

Sluit vandag nog aan by AfriForum en maak ’n verskil in jou gemeenskap. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings