Beheerde brande kan misdaad in Erasmuskloof help oopvlek – AfriForum
As deel van AfriForum se pogings om misdaad te bekamp en gemeenskappe te beveilig, het die burgerregteorganisasie die Tshwane-brandweer versoek om ’n brandpunt vir misdaad te help oopvlek. AfriForum het die brandweerdiens genader om met beheerde brande in die Erasmuskloof-omgewing te help sodat vermeende kabeldiewe nie verder van die dig bebosde gebied gebruik kan maak om van wetstoepassers te skuil nie.
Die versoek kom nadat daar al op verskeie geleenthede kragkabels in die Wolwespruit-omgewing gebuit is, wat plaaslike ondernemings en inwoners vir dae en soms vir weke lank sonder krag gelaat het.
“Dit is geen geheim dat kwaaddoeners soms van die bebosde gebied naby Wolwespruit gebruik maak om in te skuil nie. Daar is ook al uit verskeie oorde pogings aangewend om die onwettige besetters van die gronde te verwyder. AfriForum se Moreletapark-buurtwag ry nou die afgelope tyd gereeld patrollies in die area in ’n poging om vermeende kabeldiewe af te skrik,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se hoof van Veiligheid in die Noordstreek.
Forum Sekuriteit, AfriForum se privaat sekuriteitsmaatskappy, het onlangs ’n veiligheidsoudit in die gebied gedoen om die stand van sake te bepaal en bevind dat ander misdade, soos kapings, ook begin kop uitsteek. AfriForum beraam reeds planne om kabels meer doeltreffend te beveilig en algemene veiligheid in die gebied te verbeter met behulp van veiligheidskameras en georganiseerde patrollies saam met ander veiligheidsrolspelers. Daar is egter net soveel wat ’n burgerlike organisasie op sy eie kan vermag.
AfriForum voer aan dat die brandweer se bystand met die lang gras dit veel makliker gaan maak om kwaaddoeners op te spoor. Dit gaan boonop ook gemeenskapsveiligheidstrukture en privaat sekuriteitsmaatskappye in staat stel om die nodige veiligheidsmaatreëls te implementeer en hommeltuie te ontplooi wanneer die nood druk.
AfriForum sal verder met die Tshwane-brandweer en die gemeenskap skakel oor die saak, asook die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit sodat wet en orde in dié gebied gehandhaaf word.
Sluit vandag nog by een van AfriForum se plaaslike takke en buurtwagte aan om ’n daadwerklik verskil in jou gemeenskap te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.