Adv. Gerrie Nel spreek gemeenskap toe tydens gespreksaand in Citrusdal
Adv. Gerrie Nel het op Vrydag, 31 Mei, ’n saal vol gemeenskapslede en plaaslike leiers by die Citrusdal Country Lodge toegespreek. Nel, wat aan die hoof staan van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gepraat oor die stand van sake by die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), die politieke druk waaronder die NVG moet funksioneer en die suksesse van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.
Hy het duidelik uitgelig watter uitdagings Suid-Afrika tans in die gesig staar op die gebied van vervolging en regspraak, en op watter maniere AfriForum se privaatvervolgingseenheid tans regshulp bied waar daar andersins geen vordering sou wees nie.
AfriForum se Cederberg-tak het hierdie geleentheid saam met plaaslike rolspelers gereël om die gemeenskap in te lig oor van die bedrywighede waarby AfriForum betrokke is.
“Die indrukwekkende opkoms bevestig dat die Weskus-gemeenskap ’n behoefte het aan eerlike gesprekke en daadwerklike oplossings,” sê Jurie Ferreira, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Weskus. “Ons waardeer adv. Gerrie Nel se insig en ervaring, maar nóg meer sy bereidheid om aktief saam met gemeenskappe op te staan vir geregtigheid. Die privaatvervolgingseenheid is ’n unieke en uiters noodsaaklike inisiatief, krities vir die beskerming van regte, gelyke vervolging en die bevordering van ’n regstaat binne die burgerlike samelewing.”
Ferreira voeg by dat AfriForum se plaaslike takstrukture regoor die land gereed staan om klagtes vanuit die gemeenskap te fasiliteer, terwyl die privaatvervolgingseenheid ondersteuning bied in gevalle waar die NVG versuim om op te tree.
Volg gerus die skakel om betrokke te raak by AfriForum se takstrukture in die Cederberg: Sluit-aan.afriforum.co.za