AfriForum gaan hof toe om implementering van Tshwane-metro se stadsreinigingsheffing te stop
Die burgerregteorganisasie AfriForum gaan die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in die hof daag om die implementering van die nuwe stadsreinigingsheffing wat tydens verlede week se raadsvergadering goedgekeur is, te laat hersien. Daarbenewens sal die organisasie ook aanstaande week ’n dringende hofaansoek vir ’n tussentydse interdik bring teen die implementering van dié heffing op 1 Julie hangende sy hersieningsaansoek teen die raadsbesluit waardeur die heffing goedgekeur is. Dit volg nadat die metro die sperdatum vir terugvoer aan AfriForum oor die opskorting van die heffing Vrydag misgeloop het.
Die maandelikse heffing, ten bedrae van nagenoeg R200 per maand, sal volgens die metro vanaf 1 Julie gehef word op alle eiendom wat nie tans van die metro se vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie.
AfriForum het Dinsdag (3 Junie) by monde van sy regspan die metro versoek om teen Vrydag (6 Junie) die onderneming te gee dat die implementering van die heffing uitgestel sal word hangende die formulering van ’n alternatiewe ooreenkoms of, indien dit nie gedoen kan word nie, totdat die regsgeding in dié verband afgehandel is. Die metro het benewens hul prokureurs se erkenning van die ontvangs van die prokureursbrief, geen verdere terugvoer gegee nie.
Volgens Deidré Steffens, AfriForum se raadgewer vir Plaaslikeregeringsake, het AfriForum uit die staanspoor alles in sy vermoë gedoen om ’n regsdispuut te vermy. “Ons het kort nadat die planne vir die heffing in Maart vanjaar in raadsdokumente aangekondig is, die metro hieroor genader en benadruk dat die implementering daarvan sal neerkom op ’n onbillike dubbele belasting. Ons het aan die metro die geleentheid gegee om die saak reg te stel, maar het nou – weens die metro se versuim om hierop te reageer – geen ander keuse as om die hof te nader om die besluit te laat hersien nie,” sê Steffens.
“Die heffing word voorgehou word as ’n sogenaamde diensverwante fooi. Dit is egter in werklikheid ’n bykomende belasting waarvoor eienaars moet betaal benewens die bestaande eiendomsbelasting wat gebruik word vir die finansiering van dienste wat nie inkomste genereer nie, soos straat- en buurtopruiming,” voeg sy by.
AfriForum voer aan dat die heffing nie gebaseer is op die mate van gebruik soos wat artikel 74(2)(b) van die Wet op Plaaslike Regering: Munisipale Stelsels vereis nie. Die organisasie wys voorts daarop dat die heffing inwoners en sakeondernemings onbillik teiken wat weens die metro se ondoeltreffende dienslewering nie van die munisipale vullisverwyderingsdiens gebruik maak nie.
Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid, hou vol dat die metro inwoners wil straf weens sy eie onvermoë om die stad se begroting te laat klop. “Eerder as om die onderliggende oorsake van begrotingstekorte die hoof te bied, plaas die metro eenvoudig net die las oor op belastingbetalers – veral dié wat nie van die metro se ondoeltreffende diens gebruik maak nie. Dié mense betaal reeds ten duurste erfbelasting en dok boonop ook op vir die betaling van privaat diensverskaffers. Nou wil die metro nóg bloed uit die spreekwoordelike ‘belastingbetalersklip’ tap. AfriForum het verskeie voorstelle aan die metro gemaak vir die generering van bykomende inkomste, gebaseer op werklike gebruik, maar hiervoor het die metro hom doof gehou.”