Nelspruit-tak spandeer reeds meer as R60 000 aan skoonmaakprojekte in 2025
AfriForum se Nelspruit-buurtspan in Mbombela het tot dusver vanjaar reeds meer as R60 000 aan projekte spandeer en honderde ure gewerk om verskeie van dié stad se openbare parke en omliggende gebiede skoon, netjies en toeganklik te hou. Hierdie taak is uitsluitlik die verantwoordelikheid van die Mbombela Plaaslike Munisipaliteit. AfriForum het egter ingegryp nadat die munisipaliteit se instandhouding van parke en groenstroke drasties agteruitgegaan het. Terselfdertyd maan die munisipaliteit inwoners om “geduldig” te wees wanneer dit by dienslewering kom.
Volgens Hugo de Beer, voorsitter van AfriForum se Nelspruit-tak, sny die Mbombela-munisipaliteit bykans nooit die gras in die areas waar die buurtspan werk nie. Indien hulle wel doen, is die gehalte daarvan so swak dat die buurtspan daarna steeds moet terugkeer om die area skoon te maak.
“Die munisipaliteit vra gereeld dat inwoners geduldig moet wees met dienslewering – dienste waarvoor hulle boonop betaal – maar telkens moet AfriForum intree en die werk self doen. Daar is geen beplanning of sinvolle uitvoering nie. Die munisipale spanne sal soms gras sny sonder om die rommel op te tel, wat dan versnipper en oor ’n wye gebied versprei. Dit skep net nóg ’n probleem. Verder word hul spanne ondoeltreffend gebruik – hulle stuur ’n grassnyer sonder om dit te koördineer met bossiekappers, wat beteken die werk word eenvoudig halfpad gedoen. En die munisipaliteit is tevrede daarmee,” sê Arlo van Heerden, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Laeveld.
Die parke wat die buurtspan tot dusver onderhou het, is geleë in Melkweg-weg, Enterprise- en Skylab-singel, en Wilgerstraat. Verder hou die span ook die vleiland om The Blue Gate en die eilande in Ferreirastraat skoon. Die munisipaliteit het hierdie areas afgeskeep, maar danksy die selfdoen-benadering van AfriForum se buurtspan is dit nou skoon, veilig en toeganklik vir inwoners.
Die tak hou weekliks statistiek by om ’n aanduiding te kry van die volume werk wat die buurtspan namens die munisipaliteit aanpak. Die totale koste van die skoonmaakprojekte vir 2025 in Mbombela beloop reeds meer as R60 000. Die statistiek vir 2025 tot dusver is soos volg:
- 15 hektaar se gras is gesny.
- 220 liter petrol is vir masjinerie soos die grassnyer en borselsnyers gebruik.
- 250 stukkies draad is vir bossiekappers gebruik.
- 90 sakke vullis is uit parke verwyder.
- Drie ton algemene vullis is in ander gebiede opgeruim.
- Drie vragte tuinvullis is met vyf ton-vragmotors verwyder.
AfriForum se Nelspruit-tak is bereid om saam aan oplossings te werk indien die munisipaliteit die politieke wil het om daadwerklik op te tree in dié verband. AfriForum besef dat inwoners keelvol is vir die agteruitgang van hul woonbuurte en leefruimtes en doen dus ’n beroep op die gemeenskap om betrokke te raak by die plaaslike tak om sodoende ’n verskil in die stad te maak.


