AfriForum se Noord van die berg-tak volstoom aan die gang ná amptelike stigting
AfriForum het op 26 Mei sy Noord van die Berg-tak en -buurtwag amptelik gestig. Dié stigting is ’n belangrike stap om gemeenskapsbetrokkenheid, veiligheid en selfdoeltreffendheid in Pretoria se noordelike voorstede – Akasia, Heatherdale, Dorandia, Theresapark, Pretoria-Noord, Wolmer, Wonderboom, Doornpoort, Montana Park, Sinoville, Magalieskruin en Onderstepoort – verder te bevorder.
Die gemeenskap het ’n sterk en dinamiese bestuur gekies om die belange van die inwoners noord van die berg te verteenwoordig. Hulle is Werner Coetzee (steunspanleier), Hannelie van Niekerk (inligtingspanleier), Ruan Janse van Vuuren (buurtwagleier), Francois Janse van Vuuren (ops-spanleier), Rufus Visagie (ondervoorsitter), Juanita van der Walt (sekretaris), Giel Loubser (tesourier) en Willem Klooster (voorsitter).
Die tak se buurtspan het dadelik aan die werk gespring met verskeie projekte wat reeds van stapel gestuur is, waaronder die grassny en instandhouding van parkies en spruite en die herstel van slaggate. Die buurt se veiligheid is ook verhoog danksy die buurtwag se patrollies en die installasie van sekuriteitskameras.
Daarbenewens is daar reeds gevorderde planne om ’n tweede buurtspan te vestig, wat AfriForum se teenwoordigheid en impak in die gebied verder sal versterk. Die Noord van die Berg-tak werk ook nou saam met ander organisasies in die area om hulpbronne, kundigheid en vaardighede te deel – alles in ’n poging om die gemeenskap sterker en meer selfstandig te maak.
AfriForum se Noord van die berg-buurtspan maak maandeliks dele aan die noorde van Pretoria skoon. Besoek www.wordlid.co.za om hierdie pogings te ondersteun.
AfriForum nooi alle inwoners noord van die berg uit om betrokke te raak – volg die skakel na die WhatsApp-groep. Help AfriForum bou aan ’n skoner, veiliger en meer selfstandige gemeenskap.