Skole in Vredendal leer hoe om boeliegedrag hok te slaan
AfriForum se teenboelieveldtogspan, in samewerking met Kaapse Forum, het op 20 Mei besoek afgelê by Steilhoogte NGK Primary School en die graad 8- en 9-leerders van die Hoërskool Vanrhynsdorp in Vredendal. Altesaam 450 leerders het tydens hierdie besoeke geleer oor die uitwerking van boeliegedrag en hoe om hierdie tipe gedrag te identifiseer en te hanteer.
Boelies gebruik dikwels vernederende woorde om ander af te breek, maar positiewe woorde het die krag om die teenoorgestelde te doen: dit bou ander op. Wanneer kinders leer om mekaar te komplimenteer en aan te moedig, kan hulle saam ’n kultuur van vriendelikheid en ondersteuning skep, wat die mag van boelies verminder. Volgens Tania Scheepers, AfriForum se noordstreekkoördineerder vir Onderwys en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies, is dit hier waar die gordel van waarheid uit God se wapenrusting (Efesiërs 6) ’n belangrike rol speel: Dit herinner kinders om die waarheid te praat, nie leuens of skinderstories te versprei nie, en om ander met eerlikheid en respek te behandel.
“Met die passievolle toespraak het die leerders bewus geraak van die skadelike impak van boeliegedrag en hulle aangemoedig om standpunt daarteen in te neem. Die leerders is toegerus met kennis en moed om hulself en ander te beskerm, en het simbolies hul wapenrusting van God aangetrek – gereed om ’n verskil in hul gemeenskap te maak,” sê Laurika Steenkamp, ’n onderwyser by die Hoërskool Vanrhynsdorp.
Steilhoogte NGK Primary School het AfriForum se teenboelieveldtogspan bedank vir die unieke benadering tot hierdie belangrike en soms ongemaklike onderwerp.
“Die leerders het die sessie baie geniet en werklik baie geleer. Die inhoud van die praatjie was verstaanbaar, duidelik en toepaslik vir die leerders, en het ook die opvoeders opnuut bewus gemaak van die waarde van die volle wapenrusting van God. Ons is toegerus met praktiese insigte oor hoe om hierdie beginsels te gebruik om leerders te ondersteun in moeilike en ongemaklike situasies,” sê Anrika Warne, ’n onderwyser by Steilhoogte NGK Primary School.
“Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met hierdie vaardighede toe te rus, sodat hulle gevaarlike situasies in die toekoms kan voorkom,” sluit Scheepers af.
Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog, besoek www.teenboelie.co.za.