|

GOP-insette: AfriForum beklemtoon waterkrisis in voorstelle aan Ditsobotla

Die AfriForum-takke in Lichtenburg en Coligny het op 21 Mei deelgeneem aan die Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (GOP)-deelnameproses van die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit. In lyn met artikel 152 van die Grondwet het AfriForum nie net skriftelike insette gelewer nie, maar die dokument ook persoonlik aan die burgemeester se sekretaris oorhandig.

Die voorstelle wat ingedien is, fokus op verskeie kritieke infrastruktuurprobleme, waaronder die herstel van paaie, die instandhouding van boorgatpompe, en die oprigting van ’n funksionele vullisterrein. Tog is dit duidelik dat die gebrek aan volhoubare watervoorsiening een van die ernstigste krisisse in Lichtenburg is. Gemeenskapslede is reeds vir maande lank sonder konstante toegang tot water, ’n reg wat volgens artikel 27(1)(b) van die Grondwet aan elke persoon gewaarborg word.

“Die toestand van Lichtenburg se waterstelsel is onaanvaarbaar. Ons hoor weekliks van huishoudings wat dae lank sonder water is. Dit is waarom ons sterk klem lê op die herstel van hierdie noodsaaklike diens. Ons doen ’n beroep op die munisipaliteit en die distrik om met ons saam te werk en die probleem op te los,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum het reeds in Januarie en April vanjaar skrywes aan die distrik en provinsiale owerhede gestuur waarin die erns van die situasie uitgelig word.

“Die munisipaliteit beskik oor aansienlike finansiële hulpbronne, maar die dienslewering weerspieël dit nie. Dit is waarom burgerlike deelname aan die GOP-proses noodsaaklik is,” voeg Steyn Kearny, voorsitter van AfriForum se Lichtenburg-tak, by.

AfriForum moedig alle inwoners aan om hul stemme te laat hoor en by plaaslike strukture betrokke te raak. Deur strategiese deelname en volhoubare druk kan die burgerlike samelewing gesamentlik verseker dat basiese dienste nie in duie stort nie.

Soortgelyke plasings