Delportshoop-tak verwyder twee ton vullis in dié woonbuurte
Die AfriForum-tak in Delportshoop het gedurende die week van 12 Mei die netheid van die Nel- en Britz-woongebiede in dié dorpie getakel. Die organisasie het opgemerk dat dié gebiede die meeste verval het, terwyl verskeie klagtes oor die netheid en veiligheid daarvan by AfriForum aangemeld is.
Tydens die aksie is bome gesnoei, gras is met bossiekappers gesny, ’n waterdreineringsloot is skoongemaak, vullis is verwyder en verskeie slaggate op grondpaaie is met grond en klip opgevul. Altesaam twee ton rommel en tuinvullis is uiteindelik verwyder. Hierdie werk is as deel van AfriForum se landwye #HerstelEnVersnel-projek gedoen. Die doel van hierdie projek is om plaaslike omgewings op te hef deur selfdoenaksies wat onmiddellike verskil bring.
Delportshoop se woonbuurte word maandeliks tydens patrollies nagegaan om te bepaal watter buurt die AfriForum-tak se volgende fokusarea moet wees. Dus word ’n ander gedeelte van die dorp maandeliks skoongemaak en slaggate word herstel. Die tak beplan om in die lente weer die begraafplaas skoon te maak. Verder ondersoek die tak die moontlikheid om beter toerusting aan te koop, wat tyd kan bespaar om gevolglik groter areas op ’n slag te kan diens.
“Ons wag nie vir oplossings nie – ons skep dit. Hierdie projek is weereens ’n bewys van wat ’n gemeenskap kan bereik wanneer ons saamstaan,” sê Nols Dreyer, voorsitter van AfriForum se Delportshoop-tak.
AfriForum moedig alle gemeenskappe aan om betrokke te raak en hul omgewings saam te bou en herstel: Besoek www.wordlid.co.za.


