|

AfriForum se Privaatvervolgingseenheid pak die stryd aan namens Bergview College-opsigter

Klankgreep: Barry Bateman (Afrikaans)

Klankgreep: Barry Bateman (Engels)

Die verreikende gevolge van die valse aantygings van verkragting wat teen personeel van die Bergview College in Matatiele gemaak is, het duideliker geword tydens ’n konsultasie wat AfriForum se Privaatvervolgingseenheid vandeesweek met die skool se opsigter gehad het. Die opsigter het die eenheid, wat hom nou verteenwoordig, om hulp genader omdat hy en sy gesin weens meedoënlose dreigemente as’t ware gevange gehou word in hul eie huis. Sy identiteit sowel as dié van sy gesin word om veiligheidsredes weerhou.

Die dreigemente volg na aanleiding van ’n beweerde verkragting van ’n kind wat in Oktober verlede jaar by dié skool in die Oos-Kaap plaasgevind het. Die opsigter is, soos die skool se hoof, Jaco Pieterse, deur sosialemediaspeurders geteiken en ten spyte van die afwesigheid van enige bewyse teen hulle, voorgehou as verantwoordelik of aandadig aan die beweerde misdaad.   

Die eenheid staan Pieterse intussen by in die voorbereiding van kriminele sake teen verskeie vooraanstaande individue wat hom as ’n verkragter gebrandmerk het. Nadat die eenheid die minister van Polisie, Senzo Mchunu, verlede maand gewaarsku het oor die kriminele gevolge van sy uitlatings waarin hy Pieterse as ’n verdagte geïdentifiseer het, al is hy nooit as sodanig geag nie, het die minister Pieterse om verskoning gevra.   

Barry Bateman, die eenheid se woordvoerder, sê hoewel die opsigter ook versoek is om ’n DNS-monster te voorsien, dit nou blyk dat die polisie hom moontlik nie eens as ’n verdagte beskou het nie. “Benewens die feit dat die polisie hom gevra het om ’n DNS-monster te verskaf, verstaan ons dat die polisie hom nie vir ’n beëdigde verklaring of ’n waarskuwingsverklaring gevra nie. Dit bevestig net verder ons vermoede dat indien daar wel ’n verkragting plaasgevind het, dit nie by die skool gebeur het nie.”

Dit is reeds ’n maand sedert die nasionale polisiekommissaris, genl. Fannie Masemola, die Portefeuljekomitee oor Polisie toegespreek het en gesê het dat ’n senior staatsaanklaer in November verlede jaar besluit het om weens onvoldoende bewyse nie die saak te vervolg nie. Hy het ook gesê dat geen vreemde DNS op die kind of haar klere gevind is nie en dat die J88- regsgeneeskundige verslag nie aanduidend was nie. Dit laat vrae ontstaan ​​oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se oënskynlik irrasionele besluit om ’n mondmonster van enige persoon te kry, terwyl daar geen DNS-ontledingsresultate was om dit mee te vergelyk nie.

Die opsigter sê dit was vir hom ’n skok toe hy meegedeel is dat die kind na bewering by die skool verkrag is, maar het vertrou dat die polisie die saak behoorlik sou ondersoek. “Ek was nie seker wat om te sê nie, maar ek het gevoel die waarheid sal my vrymaak en dat hierdie ding uiteindelik sou uitkom. Ek het nie gedink dat dit so lank sou neem nie, want ek weet ek is onskuldig en niks het by die skool gebeur nie,” verduidelik hy. Hy bevraagteken  hoekom  die drie onderwysers en die skoonmaker wat ook by die skool teenwoordig was, dan nie sou kon hoor as daar ’n insident  plaasgevind het nie.

Hy sê voorts dat hy sy DNS-monster verskaf het om te bewys dat hy onskuldig is. Hy het gehuil toe hy ingelig is dat geen vreemde DNS op die kind of haar klere gevind is nie, en wou weet waarom die monster dan geneem is en waarom hy toegelaat is om te ly.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die eenheid, het intussen weer aan die SAPD geskryf en voer daarin aan dat hul versuim om die ondersoek af te handel en die bevindings bekend te maak net die benadeling van almal wat valslik beskuldig word van die beweerde oortreding, verleng. Hy hou vol dat die polisie ’n verantwoordelikheid het om te verseker dat almal se grondwetlike reg op waardigheid gerespekteer en beskerm word. Dié verantwoordelikheid is selfs groter wanneer die polisie beheer het daaroor om ’n einde te maak aan die voortgesette skendings teen onskuldige mense wat valslik beskuldig is van gruwelike misdade en wat in die openbaar belaster is, sodat hulle kan terugkeer na hul werk en gemeenskappe met die vertroue dat hulle van blaam gesuiwer is.

Luidens Nel het die polisie ’n plig om kinders, as die kwesbaarste lede van die samelewing, te beskerm. Hy kritiseer ook die sewe maande lange bespiegeling en skinderstories op sosiale media waarvan ’n kind die onderwerp is en haar identiteit en intieme besonderhede van die beserings aan haar liggaam wyd versprei is. Hoewel dié gebeure volgens Nel nie ongedaan gemaak kan word nie, kan die voortdurende skade wel verminder  word. Hy sê voorts dat indien daar dan nie in die belang van die opsigter of Pieterse opgetree kan word nie, die beste belange van die kind in ag geneem moet word en moet sy die deurslaggewende faktor in die beëindiging van hierdie veragtelike spektakel gemaak word.

Die eenheid het ook weer ’n beroep op die polisie gedoen om duidelik en dringend op te tree en die ware feite te gee sodat daar ’n einde gemaak kan word aan die eindelose bespiegelings in die media.

Soortgelyke plasings