| | |

Ramaphosa verantwoordelik vir Afrikaner-uittog – AfriForum

Klankgreep: Kallie Kriel (Afrikaans)

Klankgreep: Kallie Kriel (Engels)

AfriForum het vandag president Cyril Ramaphosa gekritiseer vir sy belediging van Afrikaner-vlugtelinge as “lafaards” en benadruk dat die president veel eerder verantwoordelikheid moet neem vir sy eie aandadigheid aan Afrikaners se uittog en beplande emigrasie na die VSA en die res van die wêreld.   

Ramaphosa se besluite en optrede veroorsaak, volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, ernstige vervreemding onder baie Afrikaners. Kriel wys daarop dat kwessies soos Ramaphosa se volgehoue weiering om oproepe tot geweld teen Afrikaners, soos wat deur die “Kill the Boer”-dreunsang aangemoedig word, te veroordeel, tot dié vervreemding bydra. Voorts dra die president se ondertekening van die Wysigingswet op Wette op Basiese Onderwys (Bela), ’n anti-Afrikaanse stuk wetgewing, en die Onteieningswet, sowel as die Ramaphosa-regering se toepassing van diskriminerende rassewetgewing en drakoniese rasseregulasies direk by tot die vervreemding van Afrikaners en ander minderheidsgemeenskappe in die land.

“Vlugtelinge hardloop nie weg nie; hulle word verjaag – en dit is presies wat Ramaphosa en sy regering doen. Deur Afrikaners verder te beledig en die volgehoue miskenning van kwessies wat Afrikaners raak, grawe Ramaphosa net die kloof van vervreemding selfs dieper,” sê Kriel.

“AfriForum respekteer die reg van mense om die land te verlaat, maar bly daartoe verbind om hard te veg teen die onregte wat gepleeg word teen Afrikaners en ander minderhede in die algemeen, om ook ’n toekoms vir Afrikaners en ander minderhede hier aan die suidpunt van Afrika te verseker. AfriForum, en die meeste Afrikaners, is hier om te bly. Ons ken geen ander tuiste as Afrika nie,” sluit Kriel af.

Soortgelyke plasings