|

Tshwane-metro herstel uiteindelik maandelange waterlekkasie; maan metro nou om werk te voltooi

Hoewel die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit – danksy AfriForum se volgehoue druk – uiteindelik gister (7 Mei) die reuse-waterlekkasie in Rossouwstraat in Murrayfield, Pretoria,  herstel het, is die kwessie nog nie afgehandel nie. Ná maande se grootskaalse watervermorsing en ongerief aan padgebruikers weens die lekkasie en die verbrokkelde padinfrastruktuur, was AfriForum genoodsaak om die munisipaliteit aan te maan om aksie te neem. Water het sedert begin Desember in die pad afgevloei voordat die metro ingegryp het.

AfriForum doen egter nou ’n beroep op die Tshwane-metro om die herstelwerk te voltooi deur die enorme gat wat in die pad gegrawe is om die lekkasie reg te maak, op te vul en toe te maak voordat dit in ’n veiligheidsrisiko vir padgebruikers ontaard.

“AfriForum en inwoners in Murrayfield is dankbaar vir die herstel van die waterlekkasie. Al het die metro ’n hupstoot nodig gehad om hul pligte na te kom, is dit ’n stap in die regte rigting. Dit is egter nou belangrik dat die metro nie hul werk half afgehandel laat nie,” sê Arno Roodt, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum onderneem om namens hul lede en die Murrayfield-gemeenskap druk op die Tshwane-metro toe te pas om te verseker dat die herstelwerk aan die gat spoedig afgehandel word. Indien die metro sloer met sy pligte, sal AfriForum noodgedwonge wees om self in te spring om die projek te voltooi. 

AfriForum het reeds ’n aksiespan ontbied en kontrakteurs uitgestuur om die omvang van die herstelwerk vas te stel. “AfriForum glo in selfdoen. As die munisipaliteit nie kan nie – dan sal ons self. Ons glo egter ook in doeltreffende samewerking tussen die privaat sektor, burgerregteorganisasies en munisipale owerhede. Sodoende kan ons kwessies aangaande infrastruktuur pro-aktief oplos, eerder as om van krisis na krisis te hardloop,” sluit Roodt af.

AfriForum sal intussen voortgaan om druk op die metro toe te pas en in oorleg met die plaaslike wyksraadslid die situasie moniteer om toe te sien dat inwoners se belange na omgesien word.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke en help om ’n verskil in jou omgewing te maak. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings