Thabazimbi_Rioollekkasie
|

Híér lek riool! Thabazimbi-tak wys rioollekkasies in dorp uit

AfriForum se Thabazimbi-tak het alreeds ses borde op verskeie plekke opgerig wat rioollekkasies in dié dorp uitwys. Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se poging om die voortdurende rioolprobleme in Thabazimbi aan die groot klok te hang. Hierdie probleem hou ernstige gesondheidsrisiko’s vir die inwoners in en is ’n saak van dringende openbare belang.

Daar is een bord in onderskeidelik Koraalboom-laan en Van der Bijl-straat opgerig en twee in onderskeidelik 4de- en 6de Laan.

Hierdie borde dien as ’n visuele bewys en rigtingwyser vir die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit om die presiese liggings van die lekkasies te identifiseer en op te los. Hierdie aksie is in ooreenstemming met AfriForum se hooffokus op veiligheid en selfbestuur én ’n poging om ’n veilige en gesonde omgewing vir die gemeenskap te verseker.

Indien die rioollekkasies nie dringende aandag geniet nie, is AfriForum van voorneme om die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie te nader oor die gesondheidsrisiko’s wat hierdie probleem vir Thabazimbi-inwoners inhou. Dit is noodsaaklik dat die gemeenskap se regte beskerm word en dat daar vinnig en doeltreffend opgetree word.

“AfriForum bly verbind tot die bevordering van selfstandigheid en die beskerming van ons gemeenskappe se regte. Ons versoek die Thabazimbi Plaaslike Munisipaliteit om hul verantwoordelikheid na te kom en dringende aandag aan die rioolprobleme te gee. Ons wil ook die gemeenskap bedank vir hul volgehoue ondersteuning en samewerking in hierdie verband,” sê Hendrik Kotzé, AfriForum se provinsiale koördineerder vir Limpopo.

Raak deel van die verskil in Thabazimbi en kontak Janine van Aardt, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, by voorsitter.thabazimbi@afriforumtak.co.za of besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings