AfriForum wys Laerskool Kameelfontein hoe om boeliegedrag te pak
AfriForum se teenboelieveldtogspan het onlangs by Laerskool Kameelfontein net buite Pretoria besoek afgelê en 320 leerders bereik met ’n boodskap van hoop, respek en bemoediging. Dié span doen landwyd bewusmaking oor die gevare van afknouery in skole en bied inligtingsessies aan om ’n blywende impak op leerders te maak.
“Bewusmaking oor boeliegedrag is uiters belangrik in skole, aangesien elke kind die reg op ’n veilig omgewing het waar hulle gelukkig is en respekteer word. Wanneer ons kinders leer om mekaar met empatie en aanvaarding te behandel, bou ons nie net ’n sterker skoolgemeenskap nie, maar help ons hulle om gesonde verhoudings vir die toekoms te vorm,” sê Riana Jackson, bemarker by Laerskool Kameelfontein.
“Deur bewustheid te skep, gee AfriForum se teenboelieveldtogspan vir slagoffers ’n stem, terwyl boelies geleer word om hul gedrag te verstaan en te verander. By Laerskool Kameelfontein glo ons dat respek en omgee die fondament is van elke leeromgewing, daarom is die teenboelieveldtogspan se boodskap só waardevol vir ons leerders,” voeg Jackson by.
Boeliegedrag (óók afknouery) is skadelike of aggressiewe gedrag wat deurlopend plaasvind en spesifiek gerig word op leerders met minder gesag en selfvertroue as die boelie. Die navorser Dan Olweus identifiseer drie kenmerke van afknouery, naamlik: aggressiewe optrede, met die doel om ander kinders seer te maak; ’n herhaling van hierdie optrede oor ’n tydperk; en ’n wanbalans in mag wat slagoffers hulpeloos laat sodat hulle nie hulself doeltreffend teen die aggressiewe gedrag kan verdedig nie.
“Ná afloop van die teenboelieveldtogspan se praatjie weet elke leerder nou hoe om boeliegedrag te identifiseer en hoe om dit stop te sit. Dit is van kardinale belang om leerders op ’n jong ouderdom met die vaardighede toe te rus om gevare in die toekoms te voorkom,” sê Tania Scheepers, AfriForum se koördineerder vir Onderwys in die Noordstreek en aanbieder van die teenboelieveldtog-praatjies.
Besoek www.teenboelie.co.za vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog.