AfriForum-beveiliging van substasies vier twee jaar van sukses
Dit is vanjaar reeds twee jaar sedert AfriForum se Standerton-tak ses substasies in dié dorp met alarmstelsels toegerus het en die sukses van hierdie beveiligingsprojek werp steeds vrugte af. Standerton moes voorheen gereelde kragonderbrekings weens kabeldiefstal en vandalisme by substasies verduur, maar sedert AfriForum se ingryping is dié probleem nou tot die minimum beperk.
Hierdie beveiligingsinisiatief is deel van ’n landwye AfriForum-projek wat daarop gemik is om belangrike infrastruktuur, waaronder pompstasies en substasies, teen vandale en kabeldiewe te beskerm. Verskeie veiligheidsmeganismes, wat onder meer kamera- en alarmstelsels insluit, word geïnstalleer om die infrastruktuur te beveilig.
Die projek om die infrastruktuur in Standerton te beveilig, is in samewerking met Kasselman-sekuriteit en Janson-sekuriteit aangepak. Elke substasie het sy eie alarmstelsel wat gemoniteer word. Hierdie projek het daartoe gelei dat daar sedert die installering van die alarmstelsels, geen meer kabeldiefstal by die betrokke substasies plaasgevind het nie. AfriForum het intussen betroubaar verneem dat die Lekwa Plaaslike Munisipaliteit nou ook hul eie alarms by die substasies wil installeer om dit te beveilig.
“Hierdie projek maak elke dag ’n reuseverskil in mense se lewens. Plaaslike ondernemings en huishoudings was lamgelê deur gereelde kragonderbrekings. Die projek bied ’n eenvoudige en goedkoop manier waarop gemeenskappe kan help om hierdie belangrike infrastruktuur te beveilig,” sê Leon Enslin, voorsitter van die AfriForum-tak in Standerton.
Om die AfriForum-tak in Standerton te ondersteun, besoek www.wordlid.co.za.