|

Oranje AfriForum-vullisdromme volop in Klerksdorp om dorp skoon te hou

Die AfriForum-tak in Klerksdorp het hande gevat met die DA en Pro Skips in Klerksdorp om die dorp netjieser te kry deur vullisdromme op strategiese plekke by winkelsentrums te plaas. Daar was in die verlede geen dromme om vullis in te gooi nie, wat omgewingsbesoedeling tot gevolg gehad het. AfriForum, die DA en Pro Skips het verlede jaar ’n loodsprojek begin waar hulle dromme by ’n winkelsentrum aangebring het. Die loodsprojek was so ’n groot sukses dat daar verlede week by nog vyf winkelsentrums dromme geplaas is.

Pro Skips maak die vullisdromme weekliks skoon. Die Matlosana Plaaslike Munisipaliteit het onderneem om ook die dromme leeg te maak wanneer die vullisverwyderingsvragmotor daar verbygaan.

“Hierdie is ’n uitstekende projek wat toon dat die gemeenskap, politieke partye en ondernemings kán en móét hande vat om die dorp te verbeter. Dit is die enigste manier om ’n verbetering in die dorp teweeg te bring. Dit is bemoedigend dat die munisipaliteit ook inkoop,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Neil Strydom, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp, doen ’n beroep op die gemeenskap om te help om die dorp skoon te hou en vullis in die dromme te gooi. “Wees op die uitkyk vir ’n drom naby jou en gebruik dit, asseblief. Moedig ook ander aan om dit so te doen,” sê Strydom.

Om aan te sluit by AfriForum se Klerksdorp-tak, kontak Henda Jordaan by 082 783 5272.

Soortgelyke plasings